n Ruk terug het iemand vir my gesê:  ‘Ek gaan nie meer vir jou bid nie, want jy raak nie gesond nie.’ 
Nou ja, ek weet sy het dit geensins lelik bedoel nie, ek verstaan dat dit uit n plek van omgee gekom het. Dit het my egter weer laat dink. Ons is so geneig on net die ‘groot’ dinge en die ‘wow’ dinge as wonderwerke te sien. Ons mis so maklik die ‘kleiner’ wonderwerke wat wel daar is. En ek dink dat dit belangrik is om juis bewustelik op hierdie sogenaamde ‘kleiner’ wonderwerke ag te slaan. 

Nee, ek het nog nie gesond geword nie en nee, ek kan nog nie sien nie, maar dit beteken mos nie dat gebede verniet is of nie werk nie? Daar is soveel gebede wat wel waar word, ek wil kies om dit raak te sien. Elke dag raak te sien.

Dit is n wonderwerk dat my gesin behoue gebly het en dat ek steeds n man en 2 seuns het wat die pad saam met my stap.
Dit is n wonderwerk dat die Here my elke dag toerus om my uitdagings te face. 
Dit is n wonderwerk dat die Here vir my opregte vriendinne en familie gegee het wat nooit moeg raak om net ‘daar’ te wees wanneer ek my toys rondgooi nie. 
Dit is n wonderwerk dat ek steeds soms kan werk, ongeag.
Dit is n absolute wonderwerk dat ek steeds elke dag vry kan asemhaal, na amper 4 jaar se 24/7 suurstof.
Dit is n wonderwerk dat ek elke hoë risiko operasie en behandeling tot op hede letterlik deurleef het.
Dit is n wonderwerk dat daar toegewyde dokters is – dokters wat Christene is – om my te behandel. 

Lewe – net LEWE – dit is n wonderwerk op sigself!

Moenie in die slaggat trap om net op ‘groot’ wonderwerke staat te maak nie. Of staat te maak op daardie dinge wat jy verwag n wonderwerk moet wees nie. Sien raak dat die Here so baie ‘klein’ wonderwerke doen en dat die impak daarvan in iemand se lewe selfs groter kan wees as wat n ‘groot’ wonderwerk sou wees. Kom ons laat die Here toe om SY wonderwerke te doen in ons lewens, al is dit nie wat ander mense of selfs jy van  Hom verwag nie. Kom ons gee die Here die eer wat Hom toekom al gebeur die ‘groter’ wonderwerk nie soos wat jy verwag nie.

My gebed. Ek hoop dat ook jy dit saam met my kan bid:  ‘Dankie Vader, vir elke wonderwerk in my lewe wat so n groot verskil maak. Ek vertrou U volkome met dit wat U in my lewe toelaat. Ek vertrou U volkome met dit wat U in my lewe doen. Mag die Werke wat U doen deur almal raakgesien word.’

Johannes 9:1-3
“Terwyl Jesus wegstap, sien Hy ‘n man wat van sy geboorte af blind was. Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?” En Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.”

Mag jy vandag elke ‘klein’ wonderwerk op jou pad raaksien, sodat ander die Werke wat Hy doen, in jou lewe sal kan sien. 

Groete. 
Janine

info@themustardseedwithin.co.za
083 634 8020
https://themustardseedwithin.co.za/

#wonderwerk #Sywerke #bid #mustardseed #gebed #lewe