Ek het iets om te bieg. Vanoggend toe ek die vorige post geplaas het, het ek sowaar vir die oomblik vergeet dat dit Hemelvaartdag is! Hoe vergeet n mens dit? Dit is verkeerd! Jare terug sou ek nooit vergeet het dat dit Hemelvaart is nie. Nee, ons sou nie werk toe gegaan het nie, ons sou kerk toe gegaan het! Ons sou die hele dag bewus gewees het van Jesus wat opgevaar het, ons sou dankbaar gewees het. 

So deur die loop van my gewone werksdag het ek besef dat dit Hemelvaart is en dat ek sowaar vergeet het. Jitte ek het sleg gevoel. Dit is darem maar baie jammer dat dit nie meer in die volksmond as n belangrike dag gesien word nie. Aan die ander kant is dit egter so verblydend om te weet dat die meeste kerke steeds Hemelvaartdienste hou. Dat die meeste Christene die dag steeds eer en gedenk. 

Dit is nou al amper aan die einde van Hemelvaartdag, maar ek wou nie die dag verby laat gaan het sonder om n post hieroor te maak nie. Ek hoop werklik dat jy n geseënde dag gehad het, dat jy bewus was van die groot genade wat hierdie dag vir elkeen van ons inhou. 

Gebed:
Dankie Vader, dat U Jesus laat opvaar het, om plek vir ons voor te berei. Dankie Jesus, dat U voordat U opgevaar het, vir ons gesê het om nie hartseer te wees nie, want U laat vir ons die Heilige Gees agter wat ons in die waarheid sal lei en ons sal troos wanneer ons troos nodig het. 
Amen

Groete 
Janine