Omtrent elke persoon wat in my kantoor instap, is in ‘survival mode’. Dit gaan swaar in hulle lewens, hulle het gewoonlik een groot uitdaging, wat natuurlik veroorsaak dat n mens uitdagings op soveel meer as slegs een gebied ervaar. Dit veroorsaak dat n mens op ‘auto pilot’ gaan, jy gaan maar net aan en doen wat van jou verwag word, dag na dag. Stadigaan hou jy dan op met lewe, jy bestaan eintlik maar net. Die lewe soos wat jy dit geken het, bring nie meer vir jou geluk en plesier nie. Jy kom agter dat jy nie meer lag nie, dat jy niks geniet nie. Jy is moeg, moeg om so voort te gaan. 

My hart breek gewoonlik vir die persoon wat oorkant my sit. Dan besef ek dat rigting nodig is. Ons soek weer al die klein dingetjies op in die persoon se lewe, daardie dinge wat altyd n glimlag na jou mond en jou hart gebring het. Daardie dinge wat jou vreugde verskaf het, die dinge wat jou weer laat uitsien het na die dag van môre. Dit is nie altyd so maklik om daardie dinge weer raak te sien nie, want dit lê gewoonlik begrawe onder n puinhoop van bekommernisse, van hartseer, van pyn en van trane. Sodra ons egter daardie puinhoop deurgegrawe het, dan breek die lig deur. Dan onthou die persoon wat hom/haar altyd laat ‘tick’ het. Dan vind die persoon weer die ou-ou vreugde en genoegdoening van die lekkerte vind in die alledaagse dinge van die lewe. Die opgewondenheid oor die klein dingetjies in die lewe. Dan ontdek die persoon weer léwe. 

Soms is dit nodig dat jy moet begin grawe deur jou puinhoop, sodat jy die pyn en swaarkry bewustelik eenkant toe kan grawe. Sodat jy vir jouself spasie kan maak om die lig raak te sien. Die lig van léwe. Sodat jy vir jouself spasie kan maak om die genade van bietjies-bietjies te begin lewe – werklik te léwe en nie slegs te bestaan nie – weer te kan ervaar. 

Om te lank in ‘survival mode’ en op ‘autopilot’ te wees maak jou stomp vir die genade wat die lewe bied. Vir die krag wat daarin lê om die klein dingetjies in die lewe raak te sien. 

Ek hoop dat jy, wat dalk vandag in ‘survival mode’ vasgevang is, die geleentheid vir jouself sal gun om weer te begin lewe. En indien jy dit nie regkry nie, want dit ís soms regtig baie moeilik, gun jouself die voorreg van groei – reik uit na iemand wat saam met jou die pad terug na léwe kan stap. 

Groete

Janine

info@themustardseedwithin.co.za

083 634 8020

#survivalmode #autopilot #lewe #voorreg #persoonlikegroei