Dit is vir my so n tevrede-gevoel in my binneste as ek, selfs jare nadat ek iemand ontmoet het, die antwoord kry op presies hoekom daardie spesifieke persoon oor my pad gestuur is. Soms is dit mos maar net lekker om nuwe mense te ontmoet, saam met nuwe mense n pad te begin stap, maar ander kere besef jy dat daardie persoon nie slegs jou lewe verryk nie, maar dat dit so in die Here se Wil bestem was dat jy hom/haar vir n spesifieke rede ontmoet het. 

God het jare terug in jou lewe al die groter prentjie van jou toekoms gesien, geweet wat jy op n spesifieke dag en datum sal nodig hê. En dan, soos vandag, wanneer ek ook die groter prentjie begin raaksien, dan wil ek net Dankie sê aan Hom dat Hy so lief is vir my dat Hy seker gemaak het my paaie kruis met díe van iemand anders. 

Hierdie spesifieke rede waarom jy sekere mense leer ken, maak my ook bewus daarvan dat ek altyd maar altyd Sy Wil vir my lewe kan vertrou;  dat ek altyd maar altyd kan glo dat Hy dinge ten goede laat meewerk ook vir MY.  
Hierdie spesifieke rede waarom jy sekere mense ontmoet maak my ook bewus van die verantwoordelikheid wat ek het om elke dag binne Sy Wil te lewe;  om Hom te ken in elke besluit wat ek neem vir my lewe, WANT, as ek dit nie doen nie, wat dan van die ander persoon wat dalk ook MY vir n spesifieke rede ontmoet het? 

Vanaand sê ek Dankie aan die mense in my lewe wie ek om spesifieke redes ontmoet het – dankie dat jy ook gehoorsaam was aan nie slegs Sy Wil vir JOU lewe nie, maar ook Sy Wil vir MY lewe! 
Vanaand sê ek dankie aan Hom dat daar mense is wat nie my pad per ongeluk gekruis het nie. Dankie dat ek vandag die rede kan raaksien waarom sekere mense in my lewe is. 

Moet nooit vergeet dat daar mense is wat JOU ontmoet vir n sekere rede nie! Jy is baie meer werd as om net per toeval iemand anders se pad te kruis! 

Matt. 10:29-30
‘Is twee mossies nie vir n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die Wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie, julle is meer werd as baie mossies.’

Groete.
Janine