Ek het vir maande gebid, gedink, ge-oordink, herhaal, oor en oor. Meeste van alles gebid, want ek het geweet dat ek net by Hom n antwoord sal kry. Ek het gebid om n antwoord te kry of ek die volgende moet deel of nie. 

Ek het hierdie blad van my begin vir n paar redes. Ek het in baie uitdagende tye in my volwasse lewe, die afgelope 28 jaar al, ontelbare stukke genade ontvang en ek het n drukking in my binneste gehad om terug te gee. Te gee met die hoop dat daar iemand daar buite is wat kan baat by hierdie blad. My doel was nog altyd inspirasie en om die eer aan Hom te gee. Enige krisis en trauma in my lewe het nog altyd soveel meer sin gemaak vir my as daar iets goeds daaruit kon voortspruit. Een van my drome met hierdie blad was ook om in die toekoms voor groot sale mense te staan, nie omdat dit oor MY moet gaan nie, maar oor Hom en hoe Hy enige situasie ten goede kan laat meewerk. Ek wou inspireer, getuig, harte raak, lewens verander, groei bewerkstellig. Ek weet nie of die spesifieke droom van voor gehore staan nog bewaarheid sal kan word nie, daarom gebruik ek hierdie platform om hopelik dieselfde te bereik. Dit is werklik nie altyd maklik om van jouself te deel nie, dit is nogal blootstellend, maar ek is geseēnd dat dit wat ek deel nog altyd in die regte lig ontvang is deur wie ookal iets luister of lees. Daarom weet ek verseker dat hierdie ‘projek’ van my deur God self bestuur en uitgevoer word. Voordat ek begin deel het met ander, het die volgende aanhaling wat n vriendin vir my gegee het, my die sekerheid gegee dat dit wel die regte ding is om te doen. Nou weet ek weereens dat dit is wat ek moet doen:  

“Eendag sal jy die storie vertel van al die struikelblokke in jou pad wat jy oor en deur is
En God sal die regte mense stuur wat nodig het om dit te hoor”

Hierdie blad se naam is nie verniet ‘The Mustard Seed within’ nie. Ek glo werklik dat God n piepklein mosterdsaadjie gebruik om groter en groter te groei tot in n massiewe boom. En dit was nog altyd my droom met hierdie blad. So dankbaar vir elke stuk groei wat daar reeds is. 

Ek en my gesin staar die laaste maande n groot uitdaging in die gesig. Na baie jare van n uiters uitdagende pad stap met n ernstige en baie raar auto immuunsiekte en later ook kanker, is die enigste volgende behandeling nou om n beenmurgoorplanting te kry. Hierdie twee siektes het veroorsaak dat ek al soveel in my lyf verloor het en noodgedwonge n klomp lewensveranderende operasies moes ondergaan. 
Ek het reeds al my pre-transplant toetse afgehandel, stamselle is geoes en n skenker is gevind, chemo is begin en alle teaterprosedures is so amper-amper afgehandel. Die volgende stap is dan opname, meer intense chemo, isolasie, die oorplanting self en verdere isolasie. Ek gaan so hier en daar met julle deel wat dit behels, dit is n baie lang en intense proses wat ek ook maar so met tyd eers begin verstaan het. En bietjie vir bietjie digest het, anders is dit eenvoudig net te oorweldigend. Ek het baie angs en vrese gehad, het steeds van dit, gooi my toys soms maar rond, huil na buite toe, maar veral na binne, praat hieroor, bly stil hieroor, doen net wat ek moet doen om op n gegewe tyd te cope. My lyf is baie siek en soms kan ek nie glo dat dit wel my lyf is nie, maar ek ontvang genade om hom saam te sleep en nog meer genade om my kop so positief as moontlik te hou. Jy sal sommer gou in n post sien of jy wil volg of nie, verskillende mense vind by verskillende goed aanklank. 

My hoop is dat wat ek ookal deel, steeds die Here sal verheerlik. Steeds sal getuig van Sy groot genade vir my. Genade dat ek wel hier is om hierdie storie te vertel. Mag daar steeds iemand geïnspireer word, iemand wees wie se hart geraak word, iemand wees wat krag hieruit kan put vir hulle eie omstandighede. Die belangrikste vir my is dat hierdie steeds nie oor myself moet gaan nie. Hierdie is egter my realiteit en ek wil (moet!) dit gebruik tot Sy eer. Die dae wat ek dit nie regkry nie, is ek gemaklik mee, want Hy is steeds daar vir my, ongeag. 

Ek wil ook graag net weer Dankie sê aan elkeen van julle wat hierdie blad volg, wat dit like, wat dit share, wat comment. Julle sal nie besef hoe julle help om my arms hoog te hou nie. Ek is al vir 3 mnde nie meer by my werk nie, dit is heeltemal buite my aard om nie te werk ten spyte van omstandighede nie. Ek mis my werk, baie, maar dit is buite my bereik vir nou. Hierdie is die enigste plek waar ek voel dat ek n stukkie normaliteit kan behou, waar ek kan gee. Teruggee. Dankie vir elkeen van julle wat dit vir my moontlik maak. Dankie aan Hom dat Hy vir my die regte mense gestuur het (en steeds sal stuur) wat nodig het om my storie te hoor. 

Liefde
Janine en Pippa (gidshond)

info@themustardseedwithin.co.za