Wanneer jy voel dat iets onregverdig was, dat jy te nagekom is daardeur, is dit so maklik om kwaad in jou hart te stoor. Maar wat baat dit jou? Die kwaad in jou hart het die potensiaal om die mooi van jou hart oor te neem, om jóú oor te neem. 

Soms glo iemand anders vas dat hulle iets van jou verstaan, maar in werklikheid verstaan hulle glad nie. En dit is eintlik so hartseer, want hoeveel keer trap ek en jy nie in hierdie selfde strik nie? Ons moet so versigtig wees om aannames te maak, en dan te glo dat ons iets verstaan, want dit is sodra ons glo dat ons iets verstaan dat ons met n ding begin hardloop – en in die hardloop maak ons besluite op grond daarvan, besluite wat iemand baie skade en baie seer kan berokken. Moenie dínk jy verstaan iets as jy nog nie al die vrae gevra het wat jy moes gevra het ten einde werklik te kan verstaan nie. Moet nooit met n aanname begin hardloop en dan buite rekening laat hoeveel seerkry jy op jou pad kan saai nie;  seerkry nie slegs vir die ander persoon nie, maar ook vir jóú. 

So wat doen jy dan met n emosie van ‘ek is te nagekom’? Wel, jy vat die emosie, jy vóél die emosie, oor en oor indien nodig, jy probeer jou kant van die saak stel, jy probeer die ander persoon laat verstaan. En indien dit nie help nie, wat dan? Dan los jy dit. Jy kan nie vir altyd daaroor broei nie, jy kan nie die emosie van ‘ek is te nagekom’ vir altyd voed nie, dit raak n ongemaklike monster in jóú hart. Doen wat jy moontlik kan en dan los jy die res vir die Here. Give it to God. Oor en oor. Elke dag. Dís wat jy daarmee doen. 

Groete
Janine

info@themustardseedwithin.co.za
083 634 8020
https://themustardseedwithin.co.za/

#tenagekom #onregverdig #kwaad #seerkry #besluite #verstaan #aanname #giveittoGod