Wanneer jy langs n rivier of stroompie sit met jou hand in die water, kan jy nooit weer aan daardie water vat waaraan jy op die spesifieke moment gevat het nie. Water wat deur jou vingers spoel, spoel slegs eenmalig daardeur. Dit geld vir die skoon water en die meer modderige water ook. 

Net so is dit met ons lewens. Tyd wat deur ons vingers glip, kan ons nooit weer terugkry nie. Hierdie verwys gewoonlik meer na goeie tye wat deur ons vingers glip, né. Ons moet egter ook daarop let om die moeilike tye nie slegs die hele tyd net verby te wens nie, al is dit die begeerte wat ons spontaan het – moeilike tye is mos nou vir niemand lekker of ooit tydig nie. Wanneer ons egter die hele tyd dit net verbywens, omwens, ontneem ons onsself die geleentheid om sterk te word en sien ons moeiliker raak wat en wie die dinge is wat ons arms hoog hou in sulke tye. Dit is juis hierdie moeilike tye wat ons weer n dieper besef van dankbaarheid moet gee vir wanneer ons weer die kans kry om goeie tye in ons hande te hou. Die modderige water van n stroompie wat deur jou vingers vloei, word met tyd helder water wat vloei, maar jy moet geduldig wees dat die rivier sy natuurlike loop neem. 

En terwyl jy geduldig moet wees, kan jy netsowel op dankbaarheid ook fokus. Dankbaarheid is nie slegs relevant in goeie tye nie, dankbaarheid se hoeksteen moet gelê word juis wanneer dit voel asof daar nie baie rede tot dankbaarheid in jou lewe is nie. 

Ons moenie toelaat dat wanneer ons langs n stroompie sit en daar skoon en helder water deur ons vingers vloei, dit nie n positiewe impak op ons het nie. MAAR, ons moet ook nie toelaat dat die modderige water wat deur ons vingers vloei, nie OOK n positiewe impak op ons kan hê nie, nie groei in ons lewens tot gevolg kan hê nie. Gebruik jou skoon water en geniet dit, maar gebruik so ook jou modderige water en groei daaruit tot in dankbaarheid, groei tot in n dieper menswees binne-in jouself. 

Vir die van julle wat langs n rustige rivierloop sit:  Geniet dit, waardeer dit, moenie skuldig voel daaroor nie – jy verdien dit! 
Vir die van julle wat stoei met die sterkte van jou rivierloop wat bietjie modderig daar uitsien: Maak jou hande sterk sodat jy kan survive en gebruik hierdie tyd om ook te fokus op dit wat jy wel dankbaar voor kan wees, ten spyte van. Jou rivierloop gaan ook weer rustig en helder vloei. 

Groete
Janine

info@themustardseedwithin.co.za
083 634 8020
https://themustardseedwithin.co.za/

#rivierloop #skoonwater #modder #dankbaarheid #survive #liveinthemoment