Ek deel weer vandag wat ek verlede jaar geskryf het, want dit is steeds wat ek oor Vrouedag wil sê. 


Aan elke vrou wat hier lees

Vandag kom daar weer so baie boodskappe en whatsapps van vrouwees op ons fone deur. Sommige boodskappe  lees en luister ons aandagtig, sommiges scan ons net vinnig, sommiges wat vir ons mooi is forward ons na n klomp ander vroue toe, sommiges reply ons nie eers op nie. 

Is dit nie maar n weerspieëling van hoe ons daaglikse lewens as vrouens is nie? Sommige dae is ons intens bewus van ons vrouwees, van ons krag maar ook ons swakhede, intens bewus van die mooi in ons harte maar ook die minder mooi. Ander dae maak ons onsself en ons opregte dade sommer ongeërg af as ‘dis sommer niks nie’. Ander dae kry ons dit maklik reg om van onsself aan ander te gee, sonder om eers te kyk of ons wel het om te gee en ook sonder om iets terug te verwag. Ander dae besluit ons weer bewustelik dat ons net die nodige gaan doen, net die nodige gaan gee, selfs net die nodige krediet aan onsself gaan gee. En ander dae reply ons eenvoudig net nie eers op die stem van ons vrouwees hier aan ons binnekant nie, reply ons net nie op dit wat ons nodig het nie. 

Dit maak nie saak of jy vandag boodskappe met oorgawe stuur, en of jy elke prentjie wat mooi en waar is aanstuur nie. Dit maak nie saak of jy net stil-stil jou vrouwees vier nie. HOE jy dinge vandag doen, verander niks aan jou vrouwees nie. HOE jy vandag vrouedag vier of dit nie vier nie, bepaal geensins jou waarde as vrou nie. Jy is vrou, ongeag. 

Of jy nou vandag bevoorreg genoeg is om luilekker te kan rondlê, of gesinstyd te kan spandeer, of in n mall te kan rondhang, of af te kry om agter jou kinders aan te hardloop, en of jy dalk vandag jou schlep huistake op datum moet kry, of by die werk moet wees sonder dat jy daar wil wees – die aard van jou dag bepaal dalk die kwaliteit van jou vrouedag, maar dit bepaal geensins die kwaliteit van jou vrouwees nie! 

Ongeag die lekker of die nie-lekker van jou vrouedag, jy moet met sekerheid die volgende weet. Lees dit en maak dit vandag (en elke dag na vandag) jou eie: 
Ek is genoeg!
Ek is die naam van kosbare vrou werd, ongeag my omstandighede!
Ek is die enigste vrou in die hele wêreld wie EK is – daar is slegs een van my (dankie tog, sal my man sê 🤪)
Ek is waardig!
Ek is na God se beeld geskape!
Ek is een van God se Koningskinders!
Ek is baie meer werd as edelstene, my waarde is ver bo die van korale!         

Spreuke 31:10:
‘… wie sal n deugsame vrou vind? Haar waarde is ver bo korale’

Mag elkeen van julle n mooi vrouedag hê, ongeag wat die dag vir jou inhou. Of jou dag geluk of hartseer bring, of dit hoop of wanhoop bring, en of dit vrede of bekommernis bring, jou waarde is steeds baie meer werd as edelstene, jou waarde is ver bo die van korale! 

Janine