Ek het n vriendin in die hemel. Dit sou vandag haar 50e verjaarsdag hier op aarde gewees het. Een van die mees opregte, onselfsugtigste en liefdevolste mense wat ek geken het. Iemand wat my geleer het hoe om hierdie blinde-ding te doen. Baie jare gelede het ek haar ontmoet by my eerste werksplek na universiteit. Nie lank nadat ek my sig verloor het nie. Nie net het sy gereeld haar meenthuis se deure vir my oopgegooi nie, maar ook haar hart en haar ervaring en wysheid met my gedeel, sy was blind (hoe lekker is dit nie vir my om nou te kan sê dat sy blind WAS nie, nou in die Hemel kan sy mos sien!) Ek het verstom gestaan voor wat n blinde vrou alles so op haar eie kan doen. Ek het skaars geweet hoe om een onsekere voet voor die ander nog meer onsekere voet te sit. Dit terwyl sy ewe ongeërg n hoender en groente in die oond gedruk het vir ons, my saam met haar en haar gidshond kafee toe laat stap het en haar rekenaar se keybord se gal vir hom gewerk het. En so tussenin ook nog die trappe van haar dupleks meenthuis sommer so op- en afgedraf het. Ek kan nou nog, na 23 jaar, steeds onthou dat ek net heeltyd gedink het:  Hoe in die lewe gaan ek ooit hierdie kan regkry?? Hoe kry SY dit reg?

Melette, vandag wil ek weer vir jou Dankie sê – dankie dat jy my nie slegs geleer het hoe om blind te wees nie. Dankie dat jy my geleer het dat enige iets wat ek droom steeds moontlik is. Dankie dat jy dit so maklik laat lyk het, anders sou ek nooit die moed gehad het om hierdie moeilike pad te stap nie. Dankie dat jy my gemotiveer het, soms sommer bietjie geraas het ook as ek wou lyf wegsteek. As dit nie vir JOU was nie, het ek steeds stilgesit op n stoel in die hoek van my kamer. Ek sal nooit n hoender in die oond druk sonder om aan jou te dink nie. Ek sal nooit met my gidshond onafhanklik stap sonder om aan jou te dink nie. Jy Melette, was my eerste gids, my eerste lig op hierdie donker pad. Ek mis daardie lig baie, die pad het verlede jaar sommer weer donkerder geword sonder jou. Hoeveel keer mis ek nie die eindelose vrae (of seker eintlik die antwoorde) van ‘Melette, help my gou, hoe doen n mens die volgende?’ ‘Melette, ek gaan hierdie foon stukkend gooi as jy my nie help nie’. Waarop Melette altyd koel en kalm en in beheer vir my sou sê:  ‘Janine dit is eintlik baie maklik …’ 
Nee Melettie, dit is nie so maklik sonder jou nie. Jou insig, jou kennis van ‘blinde tegnologie’ waarvan ek net mooi niks hou nie, was so n groot hulp. Ek kry dit al reg om n nuwe selfoonkontrak uit te neem sonder jou, alhoewel dit scary is vir my – jy sou so trots gewees het op my! Maar hoe gaan ek in die toekoms regkom met n nuwe gidshond se streke sonder jou? Sonder jou lag wanneer ek huil omdat ek sekere goed eenvoudig nie regkry nie? 
Melettie, al hierdie dinge sal ek seker nog regkry sonder jou, maar dis jou menswees – niemand sal ooit daardie leemte kan vul nie. Dit is moeilik om lewe te doen sonder jou hierin. 

Ek mis jou Melette. Ek en soveel ander mense. Baie geluk met jou eerste verjaarsdag in die Hemel. Ek gun jou dit om sonder pyn te wees. Ek gun jou dit om te kan sien, werklik te kan sien hoe n sonsopkoms en n sonsondergang lyk. Ek gun jou dit om te kan sien hoe n groot berg lyk, al daardie dinge te kan sien wat jy nie geweet het hoe dit lyk nie, omrede jy nie daaraan kon vat nie. Ek mis jou, maar die legacy wat jy in my lewe agtergelaat het, leef voort. Ons almal mis jou, die aarde is n armer plek sonder jou, maar ons weet dat die Hemel n ware engel ryker is. 

Liefde
Janine

info@themustardseedwithin.co.za
083 634 8020
https://themustardseedwithin.co.za/