Vandag is n dankbare dag vir my. Ek is dankbaar teenoor die Here. 

Hierdie jaar het vir my soos geveg op geveg op verskillende gebiede gevoel, dit het sommer so inmekaar gevloei. Ek vermoed baie ban julle wat hier lees kan aansluiting vind by wat ek sê. 

n Liedjie wat baie met my gepraat het van verlede jaar af, was Paul Wickham se ‘The battle belongs’. Meeste dae het ek n verligting gehad omrede ek nie sélf my gevegte moes veg nie. Sommige dae het ek egter weer gevoel dat ek nie as oorwinnaar uit hierdie stryd gaan kom nie, dat ek dit nie kan doen nie, dat ek dit nie gaan maak nie. Die afgelope dae het ek bevestiging op verskeie maniere gekry dat ek my kant gebring het, dat ek nou maar uit sekere gevegte en uitdagings in my lewe kan stap, my daarvan mag onttrek. Nie omdat al die gevegte tot n einde gekom het nie, maar omdat ék niks verder daaraan hoef te doen nie – Hy veg namens my verder. En met die woordjie ‘veg’ bedoel ek nie letterlik baklei nie, ek bedoel ‘oorneem’.  Die Here het my reeds as oorwinnaar uit die stryd laat tree. Hy het dit lankal oorgeneem, maar ek het nog verbete met my vingerpunte daaraan probeer hang, dit natuurlik sélf probeer hanteer. Ek kan maar laat los. Hy laat jou óók as oorwinnaar uit jóú stryd tree. Hy het ook jou gevegte oorgeneem, jy mág maar laat los. 

Ek weet nie wat jou stryd of jou geveg behels nie, maar ek weet wel Wie namens jou die geveg kan wen. Wanneer Hy vir jou veg, maak dit nie meer saak of jy dalk n ledemaat op die oorlogsveld verloor het of geskend is vir die res van jou lewe as gevolg van die dwarsklappe wat jou geveg jou toegedien het nie. Wanneer Hy vir jou veg, stap jy as oorwinnaar van die slagveld af. Ongeag. En dít is rede genoeg tot groot dankbaarheid. 

Indien jy vandag veg teen siekte – onthou, jy is méér as jou siekte wanneer Hy saam met jou veg. Jy is n oorwinnaar,  maak nie saak wat jou siekte op hierdie stadium van jou steel nie. 

Indien jy in n ‘geveg’ is met n ander mens of n vriendin – indien jy die geveg vir Hom kan gee, is jy n oorwinnaar al dink die ander persoon dalk dat sy die laaste doodskoot gegee het. 

Indien jy in n geveg met jou werk is – jy is n oorwinnaar al voel jy dalk om elke dag te huil oor jou werk. Hy veg dit namens jou, doen jy maar net jou werk. 

Indien jy in n geveg is met die berg voor jou – moenie vrees nie, want Hy kan werklik berge versit. 

Indien jy in n geveg is met jouself – Hy veg saam met jou en daarom is jy nie alleen nie. Hy help jou om nie van jouself jou grootste vyand te maak nie. 

‘So when I fight 

I’ll fight on my knees 

with my hands lifted high

O God, the battle belongs to You

And every fear I lay at Your feet

I’ll sing through the night

O God, the battle belongs to You’

Wanneer jy dit regkry om só te veg, tree jy as oorwinnaar uit die stryd. Elke keer. 

Romeine 8:37-39

‘Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig:  Geen dood of lewe of engele of magte of teenwoordige of toekomstige dinge of kragte  of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.’

Hoor jy dit? Jy is meer as n oorwinnaar. The battle belongs to Him! Moet dit nooit vergeet nie. Luister gerus die lied hieronder. 

Gebed:

Dankie Vader dat ons nooit alleen hoef te veg nie, maak nie saak wát ons omstandighede is nie. Dankie dat U ons gevegte oorneem en dit namens ons doen. Help ons om elke dag die regte besluite te neem en nie vas te klou aan ons gevegte nie. Dankie dat ons oorwinnaars kan wees. 

Amen

Groete

Janine

info@themustardseedwithin.co.za

083 634 8020https://themustardseedwithin.co.za/

#battle #belong #geveg #dankbaar #oorwinnaar