Sommige van ons vier dit, ander nie. 
Hoe ouer mens word, hoe minder is dit soms vir jou nodig om sekere dae te vier, né? 

Valentynsdag gaan sit egter lekker warm in my hart. Veral wanneer ek vér terugdink. Vandag is ek en my man 30 jaar saam en 27 jaar verloof. (Ons is toe darem getroud ook, maar dit was net nie op Valentynsdag nie 😂). Is dit die liefde van Valentynsdag wat my in die bevoorregte posisie plaas om hierdie te kan skryf vanaand? Nee, die liefde is slegs deel daarvan. Vriendskap, sielsmaats – dít maak ons liefde volhoubaar. Ons huwelik werk nie net omdat ons lief is vir mekaar nie. Liefde is nie genoeg nie. Ons wérk aan ons huwelik en dit maak die liefde en vriendskap genoeg. Genoeg vir n huwelik om alles te oorleef, alles te deurleef. Ons werk deur elke jaar se paar sakke sout, ons eet dit sáám op. En dit is dán wanneer n paar sakke sout gemaklik in jou binneste gaan sit. Wanneer n paar sakke sout nie die liefde bedreig nie. Wanneer dit nie meer nodig is om Valentynsdag te vier nie, want jy wéét wat jy weet en het geen dag nodig om dit aan jou uit te wys nie. 

Vandag se Valentynsdag spesifiek gaan sit weer lekker warm in my binneste – omdat ek bederf is deur my assistent! Dankie Alizia, vir die pragtige orgideë en lekker sjokolade, so opreg uit jou hart uit. Jy is so n groot deel van die praktyk se sukses, ek verruil jou vir niks! Jy bestuur die praktyk met die grootste noukeurigheid en lojaliteit. Jy kleur my en ons kliënte se lewens in, soveel meer nog as hierdie uitsonderlik pragtige plant! Jy is so waardevol in my persoonlike lewe ook – waarvoor kan ek meer vra? Dankie dat jy Valentynsdag so onverwags spesiaal gemaak het vir my! Ek koester jou vanaand saam met my man hier diep binne-in my hart.