Ons almal het skadukolle in ons. n Donkerder kant, of n leliker kant, of n ongenaakbare kant. n Kant wat nie almal van hou nie. n Kant wat maak dat jy nie elke dag trots is op jouself nie. Dit is normaal, ons is net mens. Ons almal het gelukkig ook lig in ons. Net omdat jy skadukolle het, beteken dit nie dat jy nie lig het nie. Dit is die lig binne jou wat maak dat jy kan omgee, dat jy kan liefhê. Dit is die lig wat maak dat ander jóú maklik lief kan hê. Dit is die lig in jou wat maak dat dit lekker is om in jou teenwoordigheid te wees. En omrede ons weet dat ons sélf lig sowel as skadu in ons het, is ons bereid om ander ook hulle skadukolle te vergewe. In n huwelik maak die ander ou se skadukolle jou soms briesend kwaad, of irriteer jou grensloos. Net soos wat jou skadukolle met hom/haar doen, né? 

Wanneer ek onder langdurige spanning is, spring my skadukolle soos ‘mushrooms’ op n grasperk op. En dan wonder ek waar al hierdie mushrooms ewe skielik vandaan kom. Kyk, dan skyn my lig maar effe treurig en sukkel ek om die lig te laat val presies daar waar dit nodig is. Dan begin ek te wonder of al my liggies gelyk uitgedoof is. 
Dit is egter nie belangrik om altyd hare te kloof tussen skadu en lig, tussen sleg en goed in ons nie. Al probeer ons tog maar elke dag opnuut om slegs die goeie na te streef, nie waar nie? Wat wél belangrik is, is dat ons moet besef dat ons liggies nooit sal verdof as die onuitdoofbare Lig binne-in ons is nie. Daardie is die enigste Lig wat in een ‘shot’ bo-oor die skadukolle kan skyn. Dan maak dit nie saak hoeveel skadu daar in jou lewe is nie – die Lig maak eensklaps alles ligter, alles beter, alles meer hanteerbaar.

Wees bewus van jou skadukolle, want dit help jou om te groei, maar fokus op die Lig binne jou – die Lig wat die mag het om daardie einste skadukolle te verdryf. 

Groete
Janine

info@themustardseedwithin.co.za
083 634 8020
https://themustardseedwithin.co.za/

#lig #skadu #donker #kolle #verdof