Om na jouself om te sien is n vorm van selfrespek. Soms is n ‘nee’ nodig. Jy MAG nee sê. Nee sê sonder om sleg te voel. Jy sê nie dan nee vir iemand anders omdat jy nie omgee nie, dit het niks met omgee of selfs bereidwilligheid te doen nie. Soms MOET jy nee sê omdat dit op daardie stadium nodig is om op jouself te fokus. 

Ek is een van die mense wat geneig is om te sê ‘ja, natuurlik!’, wetende dat ek eintlik ‘nee’ moes gesê het. Dit is nie altyd maklik om nee te sê nie, mens moet dit inoefen as ‘ja’ jou normale “go to place” is. 

Ek beplan om hierdie jaar baie te oefen, fiks te raak. Nie oefen in die gym en fiks raak vir n marathon nie, maar fiks raak daarin om soms ook nee te sê wanneer dit in my belang gaan wees. Ek weet egter dat ek bitter hard gaan moet oefen om nie elke keer skuldig te voel wanneer ek wel nee moet sê nie. Ek wil steeds respek hê vir almal rondom my, omgee vir almal rondom my, maar ek wil ook genoeg selfrespek kweek om die woordjie nee te gebruik wanneer nodig. 

Ek glo daar is dalk een of twee onder julle wat ook saam met my swaar trek aan skuldgevoelens wanneer jy vir iemand nee gesê het. Kom oefen saam met my, sodat ons fiks kan raak om ook makliker nee te kan sê, natuurlik sonder om selfsugtig te wees. 
Die enigste rede om skuldig te voel is wanneer jy nie nee sê vir nog n stuk koek nadat jy reeds n groot stuk verorber het nie … 😂

Groete. 
Janine

janine@themustardseedwithin.co.za
0836348020
https://themustardseedwithin.co.za/

#nee #skuldgevoelens #selfrespek #moenieskuldigvoelnie #selfcare