Vandag wil ek graag weer iets oor my gidshond, Pippa, skryf. En hiermee gee ek ook al die eer en erkenning aan die Gidshondvereniging. Ek moes onlangs vlieg, dit was Pippa se eerste vlug en ek het nogal vooraf gewonder of sy baie gespanne sal wees, siende dat sy ook nou nie meer n jong hond is nie. Ek het nog altyd baie respek gehad vir elkeen van my 3 gidshonde, maar na 2 vlugte n paar dae uitmekaar, het ek n nuwe vlak van respek vir Pippa gekry. Sy het op daardie grote vliegtuig op Lanseria lughawe afgeloop asof sulke vreemde en groot goed deel is van haar elke dag se verwysingsraamwerk. Sy het met selfvertroue die hoë trappies geklim en ewe geduldig met my lyf genoeg kans gegee dat ek ook dieselfde trappies kan klim. Sy moes verskillende mense volg vandat ons ingeboek het, maar elke keer as ek net ‘follow’ gesê het wanneer ek oorgegee word van een assistent na die volgende, het sy eenvoudig weereens die regte persoon gefollow. Ek het vir julle n kort video geneem van ons twee in die vliegtuig oppad terug, maar voordat ek dit plaas, antwoord ek sommer n paar vrae wat mense die afgelope ruk vir my gevra het:

1. Ja, jou gidshond mag saam met jou binne-in die vliegtuig gaan.

2. Nee, daar word nie n sitplek langs jou uitgehaal sodat sy gemaklik kan lê nie.

3. Nee, sy mag glad nie in die paadjie lê nie.

4. Nee, daar is nie n badkamer vir pippa se behoeftes op die vliegtuig nie, maar sy is gedissiplineerd genoeg dat dit geen uitdaging vir haar is nie.

5. Nee, daar is nie n gordel op die grond vir haar wat ek haar mee vasmaak vir opstyg en landing nie.

6. Ja, sy lê in die spasie waar jou voete is. En jou voete, ja wel, hulle is maar so bo-oor Pippa.

Dankie Pippa, dat jy my die onafhanklikheid gee wat vir my persoonlik so belangrik is.

Dankie Pippa, dat jy nuwe uitdagings saam met my aanpak – ek weet dit bring spanning vir jou ook, maar ‘hat off to you’ wat jou so goed gehandhaaf het.

Pippa, jy het my in staat gestel om op my eie te vlieg, net ek en jy. Jy het my gehelp om in n vreemde shuttle (saam met die gaafste vrou) van die lughawe af na my familie toe te ry.

Jy het my gehelp om alleen tuis te wees in n gastehuis wat diere-vriendelik is – die eienaar met haar oop hart en mooi plekkie het my laat voel asof dit ‘handpicked’ vir my en jou was.

Dankie liewe Heer, vir die regte mense wat u oor my pad gestuur het om die uitdagings van op my eie reis en eie bly, die hoof te bied. Dankie Heer dat u n plek soos die Gidshondvereniging vir ons gee om ons van disabled na abled te kan vat. Dankie Gidshondvereniging vir julle toegewydheid, julle lojaliteit, harde werk en altyd goeie diens aan ons blindes.

Groete van Pippa die beste gidshond en haar trotse eienaar Janine