Elkeen van ons het onsigbare dinge in ons lewens. Dinge wat ander rondom ons nie kan raaksien nie. Gewoonlik is daardie onsigbare dinge juis dit wat ons hartseer maak, wat spanning of bekommernis vir ons veroorsaak. In my kantoor hoor ek gereeld hoe moeilik dit vir mense is omrede hulle voel dat mense naby aan hulle nie hulle seer raaksien of ‘acknowledge’ nie. En dan besef ek elke keer dat dit maar n uitdaging vir elkeen van ons is, né? Wanneer jy blind is, soos ek, dan kry mense jou eintlik maklik jammer (of jy nou jammer gekry wil word of nie), want jou uitdaging is sigbaar vir hulle. Min wetende dat dit in my geval nie my grootste uitdaging is nie. Wanneer jou been byvoorbeeld gebreek is en jy loop met krukke, vra mense gereeld hoe jy voel, hulle bied hulp aan, hulle toon simpatie en empatie. Maar wanneer jy die oggend uit die huis uit stap met n seer hart, sien ander dit mos nie raak nie, tensy jy dit vir hulle sê. Dit is dán wanneer mense alleen begin voel. Alleen in hulle hartseer en bekommernisse en uitdagings. Wanneer dit waarmee hulle worstel, onsigbaar is vir ander. 

Ek dink dit is belangrik dat ons moet onthou dat elke mens rondom ons onsigbare uitdagings met hulle saamdra, elke dag. Net soos jy. Net soos ek. En dit moet ons sensitief maak vir die mense rondom ons. ‘n Glimlag of n opgewekte gebabbel is nie altyd die ware weergawe van wat onder daardie glimlag weggesteek word nie. Dit wat sigbaar is, verbloem soms die onsigbare. 

Net so is geloof en gebed albei onsigbaar – MAAR – dit maak die onmoontlike moontlik! Ek wil dit weer sê:  Geloof en gebed is albei onsigbaar, maar dit maak die onmoontlike moontlik. 

Moet nooit opbou bid nie. Moet nooit jou geloof verloor nie. Volhard in jou gebed en in jou geloof. Ja, dit is onsigbaar, maar die onsigbare krag van geloof en gebed is dít wat die Ewige Lewe vir ons sigbaar maak.

Hebreërs 11:1
“Om te glo, is om seker te wees  van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”

Groete
Janine

info@themustardseedwithin.co.za
083 634 8020
https://themustardseedwithin.co.za/

#onsigbaar #gebed #geloof #sigbaar #ewigelewe #volhard