Ons is weer aan die einde van nog n Paasnaweek. n Paasnaweek wat gevul was met samesyn, liefde, geluk, hartseer, alleenheid, bekommernis, siekte, maar ook genade en dankbaarheid. 

Sommige van julle het n heerlike naweek saam met familie deurgebring – ek hoop jou hart is vol liefde geprop. 
Sommige van julle het n wegbreek gehad – ek hoop jy het vergeet van roetine en druk en spanning. 
Sommige van julle het rustig tuis deurgebring – ek hoop jy het n klomp asems geskep wat jou deur die volgende besige weke gaan dra. 
Sommige van julle het n bitter slegte naweek gehad – ek dink aan n kosbare vriendin wat haar man aan die dood afgestaan het. En ek weet sy is nie die enigste een wat haar plek onverwags langsaan dood moes inneem nie – ons almal kan net vir julle sê dat ons julle in gebed opdra. 
Sommige van julle het die naweek in die bed deurgebring – ons dink aan jou wat siek is en dalk pyn het, mag jy verligting ervaar. 
Sommige van julle het die naweek hard gewerk – jy het nie n keuse gehad nie en ek glo dat jy die vrugte sal pluk van jou harde werk. 
Sommige van julle het die naweek in bekommernis deurgebring – mag daar gou uitkoms kom vir jou met jou spesifieke bekommernis en spanning. Ek dink hier ook aan n ander kosbare vriendin wat met kanker gediagnoseer is en eersdaags met behandeling moet begin. 
Sommige van ons het meer as ons kwota paaseiers opgeëet – ek hoop dat almal nie skelm van hulle kinders of kleinkinders s’n gegaps het nie …

Die waarheid is dat nie een van ons dieselfde tipe naweek gehad het nie. 

MAAR

Ons elkeen het 3 dinge in gemeen gehad hierdie naweek en daarvoor sê ons dankie:
1. Dankie Vader dat U, U enigste Seun vir ons gestuur het om hier op aarde te sterf vir óns sondes. 
2. ⁠Dankie Jesus dat U bereid was om deur die mees ondenkbare lyding te gaan om vir elkeen van ons te sterf en ook weer op te staan vir elkeen van ons. 
3. ⁠Dankie Heilige Gees dat U in ons harte woon en dat dit die waarborg is dat ons vir ewig kan lewe. 

Dankie Vader, Seun en Heilige Gees dat elkeen van ons die voorreg gehad het om n Paasnaweek te kon vier. Mag ons nou, ná Paasnaweek, steeds elke dag bewus wees van die betekenis daarvan in ons lewens. 

Groete
Janine

info@themustardseedwithin.co.za
083 634 8020
https://themustardseedwithin.co.za/

#paasnaweek #easter #kruisiging #opstanding #ewigelewe