Ons is weer aan die einde van nog n Paasnaweek. n Paasnaweek wat gevul was met samesyn, liefde, geluk, hartseer, alleenheid, bekommernis, siekte, maar ook genade en dankbaarheid.
Sommige van julle het n heerlike naweek saam met familie deurgebring – ek hoop jou hart is vol liefde geprop.
Sommige van julle het n wegbreek gehad – ek hoop jy het vergeet van roetine en druk en spanning.
Sommige van julle het rustig tuis deurgebring – ek hoop jy het n klomp asems geskep wat jou deur die volgende besige weke gaan dra.
Sommige van julle het n bitter slegte naweek gehad – ek dink aan n kosbare vriendin wat haar man aan die dood afgestaan het. En ek weet sy is nie die enigste een wat haar plek onverwags langsaan dood moes inneem nie – ons almal kan net vir julle sê dat ons julle in gebed opdra.
Sommige van julle het die naweek in die bed deurgebring – ons dink aan jou wat siek is en dalk pyn het, mag jy verligting ervaar.
Sommige van julle het die naweek hard gewerk – jy het nie n keuse gehad nie en ek glo dat jy die vrugte sal pluk van jou harde werk.
Sommige van julle het die naweek in bekommernis deurgebring – mag daar gou uitkoms kom vir jou met jou spesifieke bekommernis en spanning. Ek dink hier ook aan n ander kosbare vriendin wat met kanker gediagnoseer is en eersdaags met behandeling moet begin.
Sommige van ons het meer as ons kwota paaseiers opgeëet – ek hoop dat almal nie skelm van hulle kinders of kleinkinders s’n gegaps het nie …
Die waarheid is dat nie een van ons dieselfde tipe naweek gehad het nie.
MAAR
Ons elkeen het 3 dinge in gemeen gehad hierdie naweek en daarvoor sê ons dankie:
1. Dankie Vader dat U, U enigste Seun vir ons gestuur het om hier op aarde te sterf vir óns sondes.
2. Dankie Jesus dat U bereid was om deur die mees ondenkbare lyding te gaan om vir elkeen van ons te sterf en ook weer op te staan vir elkeen van ons.
3. Dankie Heilige Gees dat U in ons harte woon en dat dit die waarborg is dat ons vir ewig kan lewe.
Dankie Vader, Seun en Heilige Gees dat elkeen van ons die voorreg gehad het om n Paasnaweek te kon vier. Mag ons nou, ná Paasnaweek, steeds elke dag bewus wees van die betekenis daarvan in ons lewens.
Groete
Janine
info@themustardseedwithin.co.za
083 634 8020
https://themustardseedwithin.co.za/
#paasnaweek #easter #kruisiging #opstanding #ewigelewe