Ons elkeen dra n kruis. Niemand word daarvan gevrywaar nie, dit is deel van ons bestaan en deel van die lewe. 
Ons is nie almal ewe sterk nie, soms is dit die fynste mensie wat die grootste kruis moet dra. 
Ons lê nie almal dieselfde afstand met n kruis af nie. Sommiges se afstand word sommer vinnig afgestap, terwyl ander se afstand nimmereindigend vêr blyk te wees. 
Ons het nie almal dieselfde grootte kruis wat ons dra nie. Sommige kruise is van swaarder hout gemaak as ander. 

Ons elkeen ervaar egter iewers in ons lewens n stuk dra-werk aan n kruis. Jy kan nie iemand anders se dra-werk vir haar doen nie. 
Wat kan jy dan doen? 
n Eenvoudige saamstap, n vriendelike woord, n sagte glimlag, n uitreik van jou hand, n oor wat bereid is om te luister, ja selfs net dít maak die dra-werk aan n kruis, n bietjie makliker. 

Moet nooit die waarde van n gebaar van ‘ek dink aan jou’ onderskat nie! Mag elkeen van ons daagliks ervaar hoe dit voel wanneer iemand jou help dra aan jóú kruis. 

Baie sterkte aan elkeen van julle wat vandag n swaar kruis alleen moet dra. Ek dink aan jou! 

Groete
Janine

info@themustardseedwithin.co.za
083 634 8020
https://themustardseedwithin.co.za/

#kruis #swaardra #alleendra #ondersteun #ekdinkaanjou