Een van my vriendinne het op n stadium gesê dat sy nie eendag moeg in die hemel wil aankom nie. Ek vermoed die meeste mense sal dan, met die nodige respek gesê, nie gedurende November in die hemel wil aankom nie.

November is mos die tyd van die jaar wanneer ons uitlatings maak soos: ‘Hierdie jaar moet nou end kry’ of ‘Hierdie jaar raak nou te lank’ of ‘Ek is sooo moeg’. November maande het soms n neerdrukkende uitwerking op mense. Meeste mense is werklik moeg na n jaar van druk en harde werk en spanning, ander mense praat maar net uit gewoonte saam met dié mense wat novembermaand neurose het. Dan is daar ook die mense wat in November swaarkry, omrede Kerstyd reeds op baie se lippe is, vakansie- en Kersfeesvieringe kom al hoe nader – dit terwyl dit n hartseer tyd vir hulle is. Daar is soveel mense wat net hul oë in November sou wou toemaak en dit dan eers na Nuwejaar weer sou wou oopmaak. November bring vir sommige mense n nostalgie mee wat op die glyskaal van geluk nader aan seer heimweë as aan vrede en vreugde lê.

Indien jy vandag moeg is

Indien dit vir jou voel asof Novembermaand jou nie meer goedgesind is nie

Indien jy nodig het om jou hand op te steek vir n breek, maar daar nog nie geleentheid gegee word om hande op te steek nie

Indien jy voel asof hierdie jaar jou ondergekry het

Indien jy net nie meer kans sien vir wat hierdie jaar nog kan inhou nie

Indien jou gô uit is en jou moeg, moeg geploeg is

Indien jy bang is vir Desember

Indien jy net eenkant in n hoekie wil gaan sit en huil

Dan wil ek vandag vir jou sê: Net soos wat jy van Januarie af tot hier gekom het, net so sal jy hierdie jaar enduit stap. Ek wil eerder sê, dieselfde Een wat saam met jou die pad van Januarie af tot kniediep binne-in Novembermaand neurose ingestap het, is dieselfde Een wat saam met jou deur die laaste stuiptrekkings van hierdie jaar sal stap.

Jy moet weet dat al voel jy alleen in jou spesifieke uitdaging, is jy nooit werklik alleen nie. Jy moet weet dat jy nie alleen in jou moegheid is nie, dat jy nie alleen in jou seerkry-heimweë is nie, dat jy nie alleen in Novembermaand is nie. Nee, Hy ken jou hart, Hy ken jou verlange en Hy weet van jou versugtinge.

Mag die res van November sag met jou omgaan en mag jy óók sag met jouself omgaan op die vooraand van Desember.

Groete.

Janine

info@themustardseedwithin.co.za

083 634 8020