Ons is nog nie heeltemal deur die jaar nie, maar die eindpunt wink al, né? 
Daar is iets rondom Novembermaand wat sê:  Hou net aan! 
Ons begin bewus raak van die feesseisoen. Tog is daar baie mense wat wonder wáár presies hulle die feestelikheid binne hulleself gaan vind. Weet JY? 

November is n goeie maand om net weer n bietjie om te kyk, terug te kyk, agtertoe te kyk. Om te kyk hoe ver jy al gekom het. Voorraadopname te doen van jou uithouvermoë, van jou deursettingsvermoë, van dit wat jy bereik het. 

Ons voel so maklik dat ons nog niks gevorder het nie, maar wanneer jy terugkyk sal jy sien dat jy hierdie jaar wél gevorder het, dat jy wél vorentoe beweeg het. Jy hét, anders sou jy nie vandag hier gewees het om hierdie te lees nie. 

Novembermaand is ook kenmerkend van moeg wees, van sukkel om verder kop bo water te hou, van uitbranding na n moeilike jaar. Van n laer gemoed, van negatiwiteit – ek noem dit sommer Novembermaand neurose. Wanneer jy oorweldig word met die pas van die lewe. Wanneer dit vir jou voel of die dae vir jou weghardloop, sommer bo-oor jou hardloop. Ek sien dit elke jaar hierdie tyd in my praktyk, hierdie jaar soveel meer as ander jare. En my hart is seer vir die swaarkry van mense. 

Wat beten Novembermaand vir jou? Waar is jy in jou lewe? 
Wanneer ek na myself kyk en terugkyk op my jaar, sien ek n jaar vol intense uitdagings agter my. Ek sien egter ook hoe ver ek gekom het, fisies sowel as emosioneel. Ek sien raak dat ek nou hier in Novembermaand presies op die plek is waar ek moet wees. En ek besef dat ek dankbaar en nogmaals dankbaar moet wees. En ek is! 

Verlede jaar Novembermaand het ek uitgesien na n verandering in my werk, n nuwe fokus, maar ek was so oorweldig deur my gebrek aan gesondheid, ek was n emosionele wrak, dat ek glad nie die vooruitsig van minder werkspanning kon geniet nie.  Nou sien ek raak presies hoe die Here my voorberei en beskerm het ten opsigte van my werk – Hy het geweet dat daardie aanvanklike vooruitsig van minder werksdruk en minder verantwoordelikhede by my werk (ten einde my gesondheid te akkommodeer), nooit sou realiseer nie. Hy het geweet dat omstandighede my sou noodsaak om in Augustusmaand letterlik van voor af weer n praktyk op te bou. Ek het baie hard gewerk! Maar vandag, hier in Novembermaand, sien ek weereens raak dat alles ten goede meewerk vir die wat in Hom glo. Ek ontvang soveel seëninge juis op werksgebied uit Sy Hand. 

Ek het n jaar van spanning, angs en angsaanvalle beleef, weereens soveel meer respek gekry vir mense wat met depressie en angs moet stoei, want jitte, is angs nie eenvoudig die heel slegste en mees ‘debilitating’ emosie wat daar is nie? Ek het moeilike nuus gesondheidsgewys moes verwerk, maar met die hulp van n doktersspan en ook die nodige medikasie – vir die vlees sowel as die gees – kan ek voel dat die grootste storm aan die verbytrek is.  En soos wat enige storm in jou lewe maak, stap jy as een mens in en as n ander mens uit. Hierdie jaar het die beste in my na vore gebring, maar ek moet erken, ook die slegste in my. En laasgenoemde laat my klein voel. Laat my mens voel. Baie erg mens. Laat my besef hóé afhanklik ek van Hom is, want uit my eie kragte kan ek nie genoeg wees nie. Maar ek het gegroei uit die moeras-deel van my jaar wat my so ingesuig het. Ek is nie dieselfde mens as verlede jaar Novembermaand nie. Deur baie genade en wonderlike vriendinne wat altyd net dáár is, my engele op aarde, is ek n ander mens, n ‘beter ander mens’. Ek het as n onstuimige en baie bang mens in die storm ingestap en as n mens met hoop en met dankbaarheid daar uitgestap. Wat n genade. Ek het soveel meer om te gee. Hoe dan anders, want ek het soveel meer ontvang! 

Ja, daar is letsels en hartseer van deur die jaar waarmee mens noodgedwonge verder moet stap. Letsels in my hart en ook letsels in jou hart. Ek weet nie wat hierdie jaar in jou lewe gebeur het nie, in wat se moeras jy dalk vasgevang was/is nie, maar as jy n stuk hartseer beleef het wat n blywende letsel gelos het, dan tel jy daardie stuk hartseer op en jy dra dit met trots kop omhoog verder. Jy het nie n keuse gehad of jy daardie stuk hartseer wil hê of nie, maar jou keuse lê in hóé jy jou hartseer en jou swaarkry verder dra. 

Ek hoop jy kan saam met my, hier in November, terugkyk oor die afgelope jaar en die volgende besef:
Hierdie jaar was moeilik gewees, soos ander jare ook. 
Hierdie jaar was egter mooi en goed gewees, soos ander jare ook. 
Hierdie jaar was vol van huil, soos ander jare ook.
Hierdie jaar was vol van blydskap, soos ander jare ook. 
Hierdie jaar was jy nie alleen gewees nie, want Hy het saam met jou gestap, soos ander jare ook.

Groete
Janine

info@themustardseedwithin.co.za
083 634 8020