Ja! Dis waar. Dis wat borskanker doen. Dit was egter nog nie binne die Wil van die Here dat borskanker my lewe geneem het, soos ongelukkig met soveel ander vrouens al die geval was nie. Ek het reeds amper 6 jaar se genadetyd ontvang, waarvoor ek natuurlik daagliks dankie sê. Borskanker het nie my lewe geneem nie, maar dit het verseker my lewe verander. Meer daaroor n ander dag. 

Wil JY die risiko loop om ook bogenoemde stelling jou eie te moet maak? Wees verantwoordelik julle, doen jou mammogram. Oktober is juis borskankermaand. Vir n borskankerpasiënt, is élke dág egter borskankerdag.

Moenie so arrogant wees om te dink dat goeie gesondheid en n fikse liggaam jou vrywaar van borskanker nie! Moet nooit ongeërg wees oor borskanker en dink dat dit nie oor jou pad sal kom nie. Kanker neem nie gesondheid, of ouderdom, of ras, of status, of jou beursie in ag nie. Dit neem ook nie die ouderdom van jou kinders in ag nie. Omrede jy in die eerste plek n vrou is en in die tweede plek elke dag ouer word, word jy rééds blootgestel aan hierdie genoemde twee grootste risiko’s vir borskanker. Ja, dit is so eenvoudig soos dit, dít is die harde werklikheid. 
Kanker is hard.
Kanker is wreed.
Kanker is rou. 

Moet nooit die waarde van n boodskap, n drukkie, n oproep en veral gebede vir n kankerpasiënt onderskat nie, want dit maak die alleenpaadjie wat kanker is, minder alleen. Dit maak n kankerpasiënt sterk, dit gee haar moed, dit hou haar arms hoog. Dit maak dat die volgende woorde haar waarheid kan word:  
      I am not dying from cancer, 
      I am living with cancer.

Namens elke kankerpasiënt sê ek vandag dankie aan elke familielid, elke vriendin, elke ondersteuner wat die pad saamstap – ons sien dit raak! En ons dank Hom vir jou wat nie moeg word om eenvoudig net altyd dáár te wees nie. 

Groete
Janine

info@themustardseedwithin.co.za
083 634 8020
https://themustardseedwithin.co.za/

#borskanker #oktober #mammogram #kanker