Die maand van liefde, Februarie, is weer op ons voorstoep. Vir baie n genooide gas, maar vir baie n onwelkome gas waarvoor nie reggemaak is nie. Orals word nou weer spesiale aanbiedinge vir Valentynsdag aangebied. Selfs dinge wat niks met liefde te doen het nie, kan jy nou ook opraap teen n beter prys. 

Is daar egter n prys wat op liefde gesit kan word? Nee, n duisend maal NEE, sal veral die mense wat liefde in hulle lewens kort, vir jou sê. Wanneer dit by liefde kom, 
kan ek nie help om te dink dat daar ook n ander kant van die muntstuk is nie. Alhoewel die liefde mooi is, mense gelukkig maak, is daar ook baie van julle wat seerkry juis as gevolg van liefde. Indien jy iemand liefgehad het wat nie meer saam met jou hier op aarde lewe nie, dan maak liefde seer, maak dit jou verlang na daardie mens. En ek praat nie nou net van n lewensmaat nie, ek praat van enige iemand vir wie jy lief was – n kind, n ma, n pa, n boetie of sussie, n vriend of vriendin. 
Liefde wat nog lewendig is, waar iemand nog n oproep kan beantwoord, of waar jy vir iemand nog n regte drukkie kan gee, DIT maak die hart vol, laat jou geliefd voel. Waar liefde egter nie meer lewendig gehou kan word nie, DIT maak harte seer, bring n gevoel van verlies, van seerkry-heimweë. 

Liefde maak ook bitter seer wanneer dit nie gekoester word nie. Liefde is nie net n gevoel wat altyd volhoubaar is nie. Nee, liefde is harde werk en as beide partye nie bereid is om hard te werk nie, kry ten minste een party seer daardeur. En dit is n intense seer vir so baie mense, veral in die huwelik. 

Die belangrikste liefde wat egter lewendig gehou moet word, is die liefde tussen jou en God. Kry jy dit reg om jou kant van hierdie liefdesverhouding lewendig te hou? Want Hy kry dit elke dag reg met jóú. Sy liefde vir jou gaan nooit dood nie, Sy liefde vir jou raak nooit afgewater nie. Hy koester elke dag Sy liefde vir jou. Koester jy dit ook? Dit is van hierdie liefde wat 1 Kor. 13:4-7 praat:  
“Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.”

Mag ek en jy elke dag streef daarna om só lief te hê. Mag ons elke dag ons harte daarin sit om niks minder as hierdie tipe liefde vir ander te gee nie. Maar baie belangrik ook:  Mag ons ook onsself gun om met niks minder as hierdie tipe liefde tevrede te wees nie! 

Ek gun vir jou n maand van oorvloedige liefde. En indien jy voel asof dit nie nou vir jou beskore is nie, of dat liefde jou hart laat seerkry, gun ek vir jou dat hierdie maand van liefde sag met jou sal omgaan. 

Liefde.
Janine

info@themustardseedwithin.co.za
083 634 8020
https://themustardseedwithin.co.za/

#februarie #liefde #dieliefdeis #1korinthiërs13 #diemaandvanliefde #valentynsdag