Tronkstraf wat deur n hof opgelê word, moet baie erg wees, maar die lewenslange tronkstraf wat ons onbewustelik vir onsself oplê, is soms erger.  Wat is op hierdie stadium die rede dat jy in ‘n sel toegesluit word?  Is dit jou verlede? Of die mense wat nou in jou lewe is? Is dit ander se woorde, woorde wat so seermaak dat jy besluit het om eerder sonder mense oor die weg te probeer kom, sodat jy geen risiko loop dat daardie afbrekende en seer woorde diep in jou binneste gaan nesmaak nie?  

In elkeen van ons se lewens gebeur daar dinge wat tot gevolg het dat ons soms hoë mure rondom onsself bou.  Mure wat jy ander nie gaan toelaat om af te breek nie.  
MAAR, daardie mure beteken ongelukkig ook dat jy vir jouself tronkstraf opgelê het.  Jy dink dalk dat dit jou manier is om jouself teen ander te beskerm, maar jy hou nie in gedagte dat die mure rondom jou, jou ook afsluit van die mooi dinge buite daardie mure nie.  Afsluit van die ‘lewe’ deel van die lewe nie, as julle verstaan wat ek bedoel.  

Stel jou grense met mense, dis belangrik. Kry daardie ‘boundaries’ in plek. Moenie mense in jou lewe toelaat wat tot gevolg het dat jy jouself agter hoë mure bevind nie.  Jou grense wat jy met mense stel, moet JUIS tot gevolg hê dat jy hulle nie meer langer die mag gee om met jou te maak wat hulle wil nie.  Jou grense moet jou JUIS die mag gee dat jy nie jouself lewenslange tronkstraf oplê deur jouself agter hoë mure te plaas nie.  

Wanneer dit by verslawing kom, is daar ‘n gesegde wat die volgende sê: ‘Addiction is the only cell where the locks are on the inside’. Nou ja, deur die genade is nie almal van ons verslaafdes nie, maar almal van ons het ‘n paar slotte wat aan die binnekant van ons tronkdeure sit.  Waarteen sluit jy jouself toe?  Teen woorde?  Teen mense?  Teen die kerk?  Natuurlik is daar ‘n rede hoekom jy dalk ‘n slot of twee het wat aan die binnekant van jou sel sit.  NET JY kan egter daardie slot oopsluit – sodat jy ook lewe in oorvloed kan ervaar.  

‘N Lewenslange vonnis word nie slegs deur ‘n hof opgelê nie – waak daarteen dat jy nie jouself lewenslank in ‘n tronk toesluit en nie die slot raaksien wat aan die binnekant van die tronkdeur is nie.  Soek vir daardie sleutel binne-in jouself, jy verdien dit glad nie om langer ‘n vonnis uit te dien nie.  Jesus het reeds aan die kruis daardie vonnis vir my en ook vir jou uitgedien.  Bevry jouself uit jou sel.  Sluit dan die woorde, die mense, die gebeurtenisse wat jou te na gekom het, daar binne toe.  En vind die regte mense buite jou tronk – daar is nog baie van hulle – wat jou kan help om daardie sleutel ver weg te gooi.  

Jy verdien nie tronkstraf nie.  Moet asb nie toelaat dat enige mens, enige omstandighede, jou lewenslange tronkstraf oplê nie.  Jy het die lewe buite daardie tronksel nodig – meer nog, die lewe het JOU ook nodig!

Groete.
Janine