Waaraan meet jy jou waarde? Wees nou eerlik met jouself, hoeveel kere meet jy nie jou waarde aan ánder se terugvoer nie? Aan hoe ánder mense jou waarde sien nie. En dan, sodra daar iemand op jou pad kom wat nie jou waarde kan of wil raaksien nie, dan voel jy onmiddellik dat daar afbreek gedoen word aan jou waarde. En dan? Dan begin jy te praat, te stry, te bewys dat jy wél baie waarde het – jy fokus daarop om die ander persoon te oortuig daarvan. Net om na n paar gesprekke te besef dat jy nooit die gesprek in die eerste plek moes begin het nie. 

Hoekom voel ons dat dit nodig is om dit te doen? Want dit voel onregverdig, verkeerd, dat n ander persoon klaarblyklik teen sy ooglede vaskyk. En weet jy wat? Jy is reg, die ander persoon kyk wél teen sy ooglede vas. Indien iemand dit nie kan regkry om na jou te kyk soos wat God na jou kyk nie, dan moet jy werklik eerder so gou as moontlik uit die verhouding stap. Dit bring net seerkry indien jy probeer vasklou aan iets wat nie goed gaan wees vir jou nie. Sommige mense kraak jou subtiel af deur jou te laat twyfel aan jou waarde;  dit is werklik soms hulle berekende doel dat jy moet begin twyfel. Hoekom? Want hulle kan! Dit laat hulle voel asof húlle meer waarde het. 

Moenie dat ander mense genot daaruit put om jou te laat twyfel in jou waarde nie. Moenie dat die arrogansie van iemand anders jou laat glo dat hy/sy meer waarde as jy het nie. Moenie deur húlle oë na jouself begin kyk nie. Ander mense se siening, of soms hulle verdraaide siening van jou, bepaal nie jou waarde nie. Glad nie! 

Moenie jou waarde soek in hoe jy lyk nie.
Moenie jou waarde soek in wat jy doen nie. 
Moenie jou waarde soek in hoe ander mense jou behandel nie. 
Jy is WAARDEVOL omdat Jesus Sy Bloed vir jou gestort het.
Laat God bevestig en bekragtig wie jy is!

Jy HET waarde! Baie!

Groete
Janine

info@themustardseedwithin.co.za
083 634 8020