Ek deel weer iets van Hilde Kruger (deel van haar Liewe Leser projek) van Helpende hand – deel van die Solidariteit beweging. Lees dit gerus meer as een maal, want daar is baie raakpunte waarby jy aansluiting sal kan vind. ‘Werk saggies, want jy weet nie altyd met hoeveel stukkies jy in jou hande gaan sit nie’. Dankie Hilde Kruger! 

#Liewe leser

Een van die baie lewenslesse wat ek al in my lewe geleer het is dat die kanse goed is dat jy baie meer dinge sal regkry as jy luister met die doel om te verstaan en met gesag reageer wanneer iemand met jou praat. In ‘n wêreld waar alles deurmekaar en negatief voorkom, kan ek verstaan waarom ons min mense vertrou, alles vir onsself wil hou en so min as moontlik wil sê. 

Om jou hart oop te maak, is braaf. Dis braaf, want dit laat jou weerloos, daarom is dit belangrik om mense uit te kies met wie jy jou hartsake kan deel. As jy reg kies, wéét jy daardie mense sal luister met die intensie om te verstaan, eerder as om te reageer op dit wat jy sê. 

Sulke mense is so skaars soos hoendertande en is gewoonlik iemand wat jou op jou laagste gesien het en nogtans kies om steeds by jou  te staan, selfs al probeer jy hulle weg stoot. Dis die mense met integriteit wat jou respek en vertroue verdien. Jy kies hierdie mense, want jy weet met sekerheid dat die hartsgesprek eerlik sal bly. Selfs al stem hulle nie saam met jou nie, weet jy ook dat dit wat hulle sê heelwaarskynlik die waarheid is wat jy wil ontduik, maar eerder moes hoor.

Hierdie mense dra jou hart in hulle hande en hulle weet dit. Hulle weet ook hoe jou breekpunt lyk en wat jou prikkel. Hulle gaan uit hulle pad om vir jou ‘n veilige hawe te skep waar jy net jouself kan wees, want wat jou jý maak, is vir hulle meer as genoeg. 

As iemand wat gereeld dinge bevraagteken en wonder waarom hierdie mense kies om by my te staan, dink ek dat dit belangrik is om ook te vra wie jy vir hierdie mense is en of jy dieselfde vir hulle kan bied.  Is jy ‘n veilige hawe vir hulle, en luister jy ook met die doel om te verstaan wanneer hulle hulle harte uitpraat? Besef jy dat jy ook hul harte in jou hande dra en hoe breekbaar dit kan wees as jy nie saggies daarmee werk nie? 

Elke hart is anders – breekpunte ook. Die woorde wat jy kies om vandag te gebruik, kan môre se vrede beïnvloed.  Werk saggies, want jy weet nie altyd met hoeveel stukkies jy in jou hande gaan sit nie. 

Hilde 
Helpende Hand