Ek wil graag hierdie plasing van Hilde Kruger van Helpende Hand deel. Dit is so waar. Let veral op nr. 10 van haar lysie, dit raak my nogal. Daar is n klomp goed waarvoor ons soms eerder moet ophou wens, maar eerder voor moet bid, né. 

Groete
Janine

#LieweLeser
 
Ek lees onlangs ‘n anonieme plasing wat verduidelik dat ons nooit mense se teenwoordigheid in ons lewens moet onderskat nie, want goeie mense gee vir ons vreugde, minder goeie mense gee vir ons ervaring, mense wat ons skade berokken leer vir ons lesse, en die heel beste: Alle mense gee vir ons herinneringe. 

Die bogenoemde laat my dink aan ‘n lysie wat ek jaarliks getrou opdateer en in my diepste wese opvou en bêre. Die lysie bestaan uit jare se seer, groot foute en harde lesse wat ek moes leer en verwerk sodat ek vandag van beter kan weet. Ek weet dat ek nie alles weet nie, daarom skryf ek oor die lesse wat ek reeds geleer het. Vandag deel ek my lysie met jou. 

1. Daar is ‘n massiewe verskil tussen ‘alleen wees’ en ‘eensaamheid’.

2. Impulsiwiteit het altyd gevolge.

3. Niemand is permanent nie. Die enigste mens wat permanent in jou lewe is, is jý en net jý, daarom moet jy met jouself kan saamleef.

4. As jy daarna strewe om suksesvol te wees en nooit terug kyk en waardeer wat jy al bereik het nie, gaan jy nooit suksesvol wees nie.

5. Die mense wat jou waarde eerste raaksien, is gewoonlik vreemdelinge.

6. Vat kanse! Selfs al is jy bang.

7. Wees versigtig dat jy nie trots met hoogmoed verwar nie.

8. Dit wat jy glo jy is, dit word jy.

9. Om in ‘n harde wêreld sag te bly, is braaf.

10. Daar is ‘n verskil tussen ‘n wens en gebed: ‘n Wens bly ‘n wens, maar ‘n gebed maak dinge ‘n realiteit. Wees versigtig waarvoor jy wens en dink mooi waarvoor jy bid.

Ek is dankbaar vir my foute, want dis as gevolg van my foute wat ek meer as gister weet. Ons foute maak ons nie wie ons is nie, dit maak ons mens. En as ‘n mens nie foute het nie, is daar groot fout. 

Hilde 
Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5