Het jy al belangrike datums vergeet? En dan vertel jou kop vir jou die mees vreesaanjaende stories? Dit het al báie kere met my gebeur, ek glo met jou ook. 

Daardie aande wat ek teen 11 uur besef dat dit iemand se verjaarsdag is en dat dit nou te laat is om geluk te sê – en my kop vir my sê dat sy my sowaar nooit ooit gaan vergewe nie! 
Daardie dag wat ek besef dat iemand vir wie ek baie omgee in is teater toe vir n operasie en ek het nie eers weer sterkte gesê nie – en my kop vir my vertel dat niemand al ooit so n slegte vriendin soos ek gehad het nie! 
Daardie dag wat ek teen 10 uur die oggend besef (toe my seuns nog klein was) dat dit vandag koekverkoping is by die skool en ek vergeet het om n geldjie in hul tas te sit – en my kop vir my sê dat my kind ge’scar’ is vir die res van sy lewe! 
Daardie dag wat ek teen 11 uur die oggend my kind se kosblik nog op die kombuistafel vind – en my kop vir my sê dat hy vandag van die honger omkom!
Daardie middag wat ek teen 5 uur die honde se kosbakke regkry en besef ek het vergeet om hondekos te koop – en my kop vir my sê dat my hond se derms drie maal gaan knoop deur ander kos te eet vanaand!
Daardie dag wat my vriendin vir my sê dat haar nuwe werksonderhoud gister toe maar moeilik was – en my kop vir my sê dat sy nie die werk gaan kry nie omdat ek nie vir haar sterkte gesê het nie! 
Daardie aand wat my kind 7 uur vir my vra waar die rooi karton is wat ek sou gekoop het – en my kop vir my sê dat hy sy graad gaan druip omdat ek vergeet het om rooi karton te koop!

Die belangrikste wat ek onlangs vergeet het, was toe ek dag 100 na my oorplanting bereik het – wat n mylpaal was dit nie veronderstel om te wees nie!! Hoe kon ek dit vergeet het? WANT, en dit is baie kere hoekom ons belangrike dinge vergeet – daar ander belangrike dinge óók in ons lewens aangaan. 
Dinge wat ons gedagtes ‘occupy’. 
Dinge wat ons aandag verg. Dinge wat nie kan wag om aandag te kry nie. 
Eindelose dinge wat op lysies ‘afgetick’ moet word. 
Jy vergeet nie omdat jy WIL vergeet nie! 

Vandag wil ek vir jou sê:  Wees n bietjie sagter met jouself wanneer jy iets vergeet. Jy vergeet dit nie omdat dit nie belangrik is vir jou nie. Jy vergeet dit net. Punt. Want jy is n mens. Want jou lewe is vol. Want jy kan nie meer aan 111 dinge gelyk dink nie. 
Jou kind gaan nie van honger omkom indien jy sy kosblik vergeet nie – hy het n maatjie wat maar te gretig is om sy vervelige broodjies vir die dag met jou kind te deel. 
Jou hond gaan nie in n honde-depressie verval omdat jy vergeet het om sy spesifieke kos te koop nie – hy is maar te bly vir die afwisseling om n slag iets anders te eet! 
Jou vriendin gaan jou nie nooi vir koffie met gif in omdat jy te laat onthou het van n belangrike dag in haar lewe nie – dit het haar ook al oorgekom!

Wees sag met jouself. Moenie heeltyd ‘op jou case’ wees omdat jy net n normale mens is nie. Jy onthou báie meer dinge in n dag as wat jy dinge vergeet. 
Vandag onthou ek dat ek al by dag 118 na oorplanting is – ek is soveel verder as wat ek gedink het ek is!! Ek is dankbaar vir elke dag wat Hy my gedra het, dankbaar vir die dae wat Hy my selfs gesleep het, dankbaar dat Hy my elke dag van Sy teenwoordigheid verseker het, dankbaar vir elke oorwinning op hierdie pad. En biddende vir dit wat steeds nodig is. 

Onthou:  Al vergeet JY dalk iets wat belangrik was vir jou – Hy vergeet nóóit van Sy beloftes aan jou nie. 
Hy vergeet nóóit van Sy genade wat Hy elke dag vir jou gee nie. 
Hy vergeet nóóit om die pad saam met jou te stap nie. 
Hy vergeet nóóit om aan jou gebede aandag te gee nie. 
Hy vergeet nóóit van JOU as Sy kind nie!
Daarom word Hy God genoem. En jy slegs mens. 

Groete
Janine

info@themustardseedwithin.co.za
083 634 8020
https://themustardseedwithin.co.za/

#vergeet #Godisaltyddaar #sag #onthou #themustardseed