Herfs – om dinge af te skud

Die meeste mense hou van Lente – wanneer daar weer nuwe lewe en kleur kom na die Winter. Herfs is persoonlik my geliefkoosde seisoen van die jaar. Net soos sommige van die bome en struike in Herfs van hulle blare ontslae raak, dit afgooi, wil ek ook hierdie Herfs gebruik om dinge van my af te gooi. Om dinge te laat gaan. Ek dink daar is n klomp blare wat ons so gedurende Herfs van ons kan afgooi. Dalk praat een van dit met jou ook? 

Ons kan dit laat gaan om nie onnodige emosies binne-in ons aan die lewe te hou nie. Emosies wat toksies vir ons is nie. Ekself wil bv nie meer vrese koester vir my gesondheid nie, ek wil my nuwe kans op n beter kwaliteit lewe koester, terwyl ek die keuse het om dit te doen. Ek wil glo dat dit gaan gebeur. 
Ons kan emosies van ‘ek wens dinge was sus of so’ probeer afskud – ons moet fokus op hoe dinge wel is om sodoende die beste daaruit te kan haal. 
Ons moet mense laat gaan wat ons nie in hulle lewens wil hê nie – moenie jou energie mors op n vriendskap of n verhouding wat meer seerkry as geluk vir jou inhou nie. Skud dit af. 
Ons kan n klomp blare van onvergenoegdheid afskud – onvergenoegdheid met sekere kaarte wat die lewe dalk vir ons gedeel het. Onthou, al lyk dit asof die mense rondom ons slegs die makliker en die lekker kaarte ontvang het, is dit nie altyd so nie. Hulle kaarte is dalk net nie sigbaar vir jou nie. Of hulle speel hul kaarte met n positiewe ingesteldheid. 
Ons kan n gesindheid van ‘ek kan nie’ afskud – jy kan! En jy is in elkgeval tot alles in staat deur Hom wat jou krag gee! 
Ons kan die beeld wat ons van onsself het wanneer ons voor n spieël staan laat gaan – daardie beeld van ek is nie mooi of maer genoeg nie. Jy is na Sy beeld geskape, perfek en mooi. 
Onnodige bekommernisse is iets wat elkeen van ons gerus kan afskud. Dit waaroor ons, ons vandag bekommer, is soms nie eers meer oor n dag of drie nodig om ons oor te bekommer nie. 
Ons kan die ‘mindset’ afskud dat ons moeilike dinge alleen in die lewe moet face – daar is altyd iemand wat n pad saam met jou wil stap. Al kan hulle dit nie VIR jou stap nie, kan en wil hulle wel langs jou stap. Jy moet dalk net vra! 
Skud die gevoel af dat jy nie van genoeg waarde is nie – jy is soveel meer werd as wat jy dink! Jy is n Koningskind! 

Daar is baie blare wat elkeen van ons so saam met die Herfs kan afskud. Ek glo jy kan baie dinge by my lysie voeg. Dink bietjie wat die spesifieke dinge is waarvan JY graag ontslae wil raak. Dinge waarvan jy ontslae MOET raak om sodoende wanneer dit weer Lente raak na die Winter, mooi lote van lewe en blomme en kleur te kan uitstoot. 

Sterkte met jou herfs – gebruik dit om af te skud, net soos wat in die natuur rondom ons gebeur. Net soos wat die Here die natuur aanvanklik geskep het om seisoenaal te verander, te verloor, af te gooi. En net soos wat ek glo Hy n herfs seisoen vir elkeen van ons ook bedoel het – om af te skud. Hy kan dit nie vir ons doen nie, maar Hy gee ons genoeg krag en genoeg genade om dit wel self te kan doen. En wanneer jy die nodige blare nie self afgeskud kry nie:  
Let go and let God. 

n Mooi herfsdag vir jou!

Groete
Janine

info@themustardseedwithin.co.za
083 634 8020
https://themustardseedwithin.co.za/

#herfs #afskud #letgo #letgoandletgod #laatditgaan #afskud #raakontslae