Wat n absolute voorreg was dit nie vir my en Pippa gewees om n fakkeldraer te kon wees by Helpende Hand se LIG konsert gisteraand nie. LIG – liefde in gestremdheid. ‘As ek kan, kan jy’.

Dit was n aand wat gevul was met hoop en inspirasie. Sprekers en sangers wat getuig van deursettingsvermoë, van opstaan, uithou en aanhou – en die goue draad dwarsdeur dit alles is genade. Genade werklik onbeskryflik groot. 


n Baie talentvolle tolk wat die hele program vir die persone met gehoorgestremdheid so presies weergegee het – en ook vir baie humor gesorg het deur die talle humoristiese oomblikke op so n unieke wyse te kon weergee. 


Dankie Prop, Mathys Roets, Germandt Geldenhuys, Danie Niehaus, Vernon Barnard, Edwin Nelson (Rise with Edwin) – my hart is vol. 


Dankie Suzette Oosthuizen van Helpende Hand – Deel van die Solidariteit Beweging.
Dankie Helpende Hand – respek in oorvloed vir elkeen van julle betrokke wat oorvloedig gee aan die gemeenskap.