Gedurende Oktobermaand skryf ek baie oor borskanker. Eintlik oor kanker in die algemeen. Wat ek graag vandag wil aanraak, is iets wat vir n lang tyd n diep seer en n bitter ongemaklike gevoel in my binneste was. Ek weet in baie van julle se binnestes ook. Dit is n gevoel wat hulle ‘survival’s guilt’ noem. Wanneer jy kanker het en jy bly lewe (wat n voorreg!) het jy n diepe bewustheid van geliefdes rondom jou wat níe bly leef het nie. En dit laat jou soms baie skuldig voel omdat jy kanker oorleef het. Ek het my sussie, my ma, 2 hartsvriendinne en ook ander naby familielede aan kanker verloor. Ek leef al vir amper 6 jaar met kanker, sonder om soos hulle almal net eenvoudig dood te gaan. Hoekom kry een mens die kans om te bly lewe en n ander nie? Dit is nou nie slegs op kanker van toepassing nie. Wat maak een mens meer spesiaal as n ander mens? Niks nie! Absoluut niks nie! Dit is slegs deur genade dat ek en jy wat hier lees nog n dag van lewe geskenk word. Onverdiend. Survivor’s guilt is egter n realiteit. n Seer realiteit vir baie mense. 

Wat maak jy daarmee? Met daardie emosies?
Jy vóél dit, want dit is deel van die pad wat jy stap. 
Jy moet besef dat dit n simptoom is van kanker- oorlewing, net soos wat n hoofpyn n simptoom is van n verkoue. Dit is normaal. Maar dit is nie n lekker normaal nie. Indien jy dalk sukkel met skuldgevoelens as gevolg van survivor’s guilt, as jy agterkom dat dit jou daaglikse lewenskwaliteit negatief beïnvloed, praat met iemand daaroor. As jy nie met n berader wil praat nie, praat dan net met n vriendin, maar kyk dit in die oë. Ek het al in my praktyk gesien hoe survivor’s guilt n slegte depressie kan veroorsaak, tot so n mate dat iemand hulle hele toekoms en die sin van hulle bestaan begin bevraagteken. Onthou, survivor’s guilt ontstaan nie net as gevolg van kanker nie, maar ook bv as gevolg van n motorongeluk waarin ander geliefdes gesterf het, of dalk as gevolg van Covid,  waar jy oorleef het maar een of meer van jou geliefdes nie. Wat ookal die rede vir jou survivor’s guilt is, moenie dit ignoreer nie, want dit kan n tikkende tydbom wees. 

Ek sê altyd vir mense in my kantoor dat alhoewel survivor’s guilt n baie slegte emosie is, moet jy onthou dat dit válse skuldgevoelens is, omrede jy niks gedoen het waaroor jy skuldig behoort te voel nie. Maar tog vóél jy skuldig, jy kan dit nie help nie. Dit is onwillekeurige emosies, jy kies dit nie. Dit is egter normaal, hoe abnormaal dit ookal voel en ongelukkig deel van jou proses. 
Die enigste iets wat jy moet vat wanneer jy survivor’s guilt het, is God se groot genade vir jou – Sy Plan vir jou lewe. God hét nog n plan vir jou lewe, daarom lewe jy nog. Moenie toelaat dat survivor’s guilt léwe van jou af wegneem nie – jy verdien dit om te léwe en nie net te bestaan nie. Gun jouself dit! 

Groete
Janine

info@themustardseedwithin.co.za
083 634 8020
https://themustardseedwithin.co.za/

#survivor #guilt #survivorsguilt #cancer #kanker #genade #lewe