Ek is nogal iemand vir goeters. Mooi goeters wat uitgestal word op rakkies en tafeltjies en in hoekies. Daardie goetertjies op die kaggel, julle weet mos. Ek hou van detail. En ek hou van mooi. Mooi goeters. Hoe ouer ek egter word, hoe leër word my rakkies en tafeltjies. Kry ek soms sommer lus om die rakke en tafels ook weg te vat, nie slegs die goeters daarop nie. Ek het deesdae n behoefte aan eenvoud, aan oop ruimtes. Ek het baie van my goeters sommer nou al vir my kinders gegee, hulle hoef nie meer te wag tot ek doodgaan nie. Ek wil nou minder van n goeters-mens wees. 

As ek egter so in my huis rondloop, besef ek dat hier maar nog heelwat goeters rondstaan. Orals op rakkies en tafeltjies. Dit is seker n geval van ‘een maal n goeters-mens, altyd n goeters-mens’. 

Is jy n mens vir goeters? Op die ou end maak dit seker nie saak of ons van goeters hou en of ons nie van goeters hou nie, want dit bepaal nie die kwaliteit van ons harte nie. Wat belangrik is om te onthou, is dat niemand by jou begrafnis gaan opstaan en oor al jou goeters gaan praat nie. Nee, hulle gaan praat oor wie jy as mens was, hoe jy ander mense laat voel het, hoe jou hart geklop het vir jou medemens. 
As jy n goeters-mens is, soos ek, geniet die mooi van jou goeters, maar moet nie toelaat dat jou lewe oor goeters gaan nie. Want wanneer jy hierdie aarde verlaat, verlaat jy dit sonder jou goeters. 

Groete
Janine

info@themustardseedwithin.co.za
083 634 8020
https://themustardseedwithin.co.za/

#goeters #doodgaan #ouderdom #minimaal #eenvoud #besittings