Die van julle wat al tieners grootgemaak het, sal die opskrif sommer dadelik snap. Ek glimlag eintlik baie daaroor, want dit is so kenmerkend van baie kinders vir n paar jaar lank. 

Dit is hoe n tipiese oggend in ons huis verloop wanneer ek my een seun wakker maak:

More my seun, lekker geslaap?
Hm
Kan ek ontbyt vir jou regkry?
Hm
Is jy lus vir eier of broodjie of pap?
Hm
Okay ek maak eier. Roereier of gebakte eier?
Hm
Ek kry dit reg vir jou (n goeie begrip het mos net n halwe woord nodig 🤪)

Dan so bietjie later wanneer hulle meer wakker is, begin hulle in voller sinne te praat:
Is jy reg vir jou toets?
Ek weet nie
Sal jy my laat weet of die skool vandag weer vroeēr uitkom?
Ja
Weet jy nou al hoe laat jy vanmiddag by die oefening moet wees?
Ek weet nie
Jy sal my laat weet, né?
Seker
Ek wonder of jy nie vandag dalk jou baadjie moet aantrek nie, dit voel vir my half koel. 
Sal sien
Ek het jou kosblik op die tafel gesit, onthou om dit te vat, hoor. 
Hm (woorde is nou weer op na al die vol sinne 😂)

Laai jy hul by die skool af, sien jy net in jou truspieëltjie hoe land en sand hulle met maats gesels. 
Nou ja mammas, die wie se kinders soggens sukkel om hul woorde uit te kry – onthou, hulle moet alle moontlike woorde bêre vir wanneer hulle tussen hulle maats is! 
Dis normaal, dit hou ook nie vir altyd aan nie – moenie te hard op hulle wees nie!

Mooi week vir julle! 

Groete.
Janine

info@themustardseedwithin.co.za
083 634 8020
https://themustardseedwithin.co.za/