Moet nooit die waarde van jou aksies teenoor ander onderskat nie. Jy besef nie altyd dat JY die mag het om n ander se dag makliker te maak deur net iets ‘insignificant’ te doen nie. 

Ek was verlede week weer in die hospitaal vir my ‘oil change’, soos wat iemand dit al genoem het 😂. Ek het weer 5 dae se plasma uitruilings gekry. Die eerste dag in teater het ek n slegte ervaring gehad (ek moes wakker wees tydens die prosedure) en was redelik gerattle toe hulle my daarna teruggestoot het na my glashok in hoësorg. Later die middag het ek ingesluimer, maar wakker geword van iemand wat my hand vashou. Dit was die narkotiseur van die oggend in teater. Dit was die heel eerste keer van al die baie kere wat sy my narkotiseur was. Ek was effens verward, want n narkotiseur kom besoek my nie sommer in my glashok nie. As jy wakker is na narkose, is jy mos wakker en dan is hulle taak gewoonlik suksesvol afgehandel. Hierdie vroue narkotiseur het daardie dag egter die ekstra myl gestap – net om te kom kyk of ek okay is. Sy het met soveel deernis met my gepraat (in highly english), maar engels het my nog nooit so getroos soos daardie dag nie. Sy het bloot in haar middagete kom kyk of ek okay is, want sy kon sien in teater dat dit vir my moeilik was. 

Wat het dit van haar gevat om die ekstra myl te stap? Niks nie. Net n paar minute. Maar wat het dit vir my beteken? Die wêreld! Haar omgee in daardie paar minute het my hoop gegee, krag gegee om my uitdagings van daardie dag te face. 

Wie is jy? Is jy die een wat in jou glashok lê en wag vir ander om jou hoop te gee en jou te bemoedig? Wag vir ander om jou dag beter te maak? Of is jy die narkotiseur wat vir n paar minute uit jou pad uit gaan om n verskil in iemand anders se dag te maak? n Verskil wat dalk daardie persoon se lewenslyn vir daardie spesifieke dag is, sonder dat jy dit weet. 

Ons is nie verniet hier op aarde geplaas nie, ons is ook hier geplaas om mekaar te help, mekaar te ondersteun, uit te kyk vir mekaar. JY kan vandag die rede wees vir n ander om hoop te kry om deur sy/haar dag te kom. Moenie nalaat om dit te doen nie. Moet nooit die stemmetjie van die Heilige Gees hier in jou binneste ignoreer nie. Laat toe dat jy gebruik word om dáár te wees vir iemand anders. 

Moet nooit die waarde van jou aksies, van n ‘insignificant’ optrede volgens jou, in n ander se lewe onderskat nie. 
Vandag gaan ek ook probeer – en ek hoop jy is saam met my in hierdie een – om daardie narkotiseur vir iemand anders te wees. 

Groete. 
Janine

info@themustardseedwithin.co.za
083 634 8020
https://themustardseedwithin.co.za/

#omgee #ekstramyl #hoop #lewenslyn #narkotiseur #goeieaksies