Baie vrouens met borskanker kry n sekere chemo wat ‘the red devil’ genoem word, vir die rooi kleur wat die chemo is. Dit is n chemo waarvoor baie vrouens bang is, juis oor die naam en ook die newe-effekte daarvan. Sommige vrouens raak bitter siek daarvan, ander seil weer relatief gemaklik oor die chemohekkies. Jy het nie n keuse in hoe chemo jou liggaam en jou daaglikse funksionering gaan beïnvloed nie. Jou enigste keuse is hóé jy na jou chemo kyk, hóé jy daaroor dink. So werklik soos wat die rooi chemo n duiwel is, want onthou, dit is beheerde gif wat alle selle voor die voet doodmaak, die gesonde selle in jou lyf ook. Net so is chemo soms waarlik n engel, want dit kan jou lewe red. As jy so daarna kyk, verander dit jou fokus, want dan bring chemo hoop. Dan bring chemo lewe. So ook ‘the red devil’. 

Indien jy kanker het, is chemo gewoonlik n realiteit in jou en jou gesin se lewens. 
Indien jy nie kanker het nie, wat is die ‘red devil’ in jou lewe? Want almal, ek en jy, het n rooi duiwel in ons lewens. Iets wat ons vrees, wat ons nie wil hê nie, maar terselfdertyd iets wat hoop gee, wat lewe beteken. Is dit  jou werk? Jou huwelik? n Vriendskap? Jy haat dalk jou werk met alles in jou, maar jou salaris elke maand bring hoop. Jou huwelik laat jou dalk voel of jy wegkwyn, maar dit gee jou ook n dak oor jou kop. n Vriendin irriteer jou dalk, maar jy bly in die vriendskapsverhouding omrede jy hoop het dat dit weer beter sal word. 

So is daar baie dinge in jou lewe wat jóú rooi duiwel kan wees, AS jy dit toelaat natuurlik. Mense met borskanker het nie altyd n keuse wanneer hulle die rooi duiwel as chemo moet kry nie. Maar jy, jy wat nie kanker het nie, wat se rooi duiwels laat jy daagliks in jou lewe toe? Hoe kyk jy daarna? Kyk jy énigsins daarna? Ons moet dalk bietjie let op wat se rooi duiwels ons bewustelik én onbewustelik in ons lewens toelaat. 

Sterkte aan al die vrouens wat op hierdie stadium nie n keuse het om die ‘red devil’ chemo deur hulle are te laat vloei nie. Mag daardie rooi duiwel vir jou ook n engel wees wat lewe beteken. 
En aan ons ander, wat bevoorreg is om geen ‘red devil’ deur ons are te kry nie, mag ons moeite doen om ontslae te raak van onnodige rooi duiwels in ons lewens. As jy geen engel kan raaksien in dít wat ook jou rooi duiwel is nie, dan hoort dit nie in jou lewe nie. Ek sê dit weer:  As jy geen engel kan raaksien in dít wat ook jou rooi duiwel is nie, dan hoort dit nie in jou lewe nie!!

Groete
Janine

info@themustardseedwithin.co.za
083 634 8020
https://themustardseedwithin.co.za/

#reddevil #rooiduiwel #chemo #engel #kanker #borskanker #keuse