Let bietjie op: Wie is die mense in jou lewe wat bly is saam met jou oor jou suksesse en hartseer is saam met jou oor jou verliese? HULLE is die mense wat n spesiale plek in jou hart verdien.

Daardie mense is die mense wat regtig wil weet hoe dit met jou gaan, nie sodat hulle hul kan verlekker daarin wanneer dit nie goed gaan met jou nie, maar sodat hulle n deel van jou swaar saam met jou op hulle skouers wil neem.

Ons kan nie besluite neem vir ander mense nie. Dit is dus nie jou keuse of ander mense opreg saam met jou bly is of opreg saam met jou huil nie. Nee, jou keuse is of JY opreg saam met iemand anders bly kan wees oor haar suksesse en geluk, of opreg saam met iemand hartseer kan wees oor haar swaarkry en verliese. Kom ons let daarop dat ons nie in daardie strik trap van ‘lekker, die wiel draai nou’ nie. Dit gebeur so maklik dat iemand hul kan verlekker wanneer die wiel na die slegte kant toe draai vir n ander persoon. Moenie jy daardie iemand word nie. God het een son geskape, maar daardie een son het meer as genoeg strale om elke dag oor ons almal se koppe te skyn.

‘Vader, lei my om elke dag te besef dat ek nie geregtig is daarop om myself meer sonstrale toe te eien nie. Gee my die insig om te weet dat n sonstraal wat vir iemand anders bedoel is, my ook gelukkig kan maak indien ek opreg bly is vir daardie persoon. Mag ek elke dag die gesindheid hê om almal rondom my ook hulle eie strale te gun’

n Mooi sonnige dag verder vir elkeen van julle!

Groete.

Janine

info@themustardseedwithin.co.za

083 634 8020