Die bekende gesegde sê:  ‘Blom waar jy geplant is’. Wat dit seker eintlik beter sou verduidelik het, is as ons sou sê:  ‘Blom daar waar dit selfs moeilik is om te groei’. 

Hoeveel kere is ons nie op n plek in ons lewens waar ons nie wil wees nie? Hierby bedoel ek nou met plek nie Pretoria of Kakamas of Oudtshoorn nie. Ek bedoel spesifieke omstandighede in ons lewens. Ons almal word van tyd tot tyd gekonfronteer met situasies waar ons voel waar ons geplant is agv die verloop van die lewe, maar dan is dit definitief nie n situasie of omstandighede waar ons maklik gaan kan blom nie. Dan word ons met omstandighede gekonfronteer wat ons ore aansit, omstandighede wat ons nie in ons lewens wil hê nie. 

Hoe blom jy in sulke tye? Daar waar die grond te kleierig en te droog voel vir jou, daar waar jy omring word met n klomp ander plante wat in volle blom staan en dit so maklik laat lyk. Maar jy kry dit nie reg nie. Dit is net nie maklik nie. Nie maklik om te blom as jy nie gekies het om daar geplant te word nie, né? Maar dit is moontlik – moontlik indien jy regtig graag WIL blom. Om dit te kan doen, is dit soms nodig om nie slegs te fokus op die blom self wat jy wil hê nie, maar ook op jou wortels. Dit is dalk nodig om jou wortels bietjie dieper in die grond in te grawe, dit dalk bietjie wyer uit te stoot as waaraan jy gewoond is. Nie net te staan en te wag dat die blomme moet uitpop nie. 
Daardie dieper grawe van jou wortels verg ook dieper delf binne-in jouself en nie slegs in jou omstandighede nie. Dalk is jou ingesteldheid deel van die rede hoekom jy nie kan blom nie en is slegs jou omstandighede alleenlik nie te blameer nie? 

Dieper selfondersoek beteken ook om krag diep binne-in jouself uit te haal wat jy nie eers meer geweet het jy het nie. Krag wat die Here in elkeen van ons ingeskape het. Keer dan opnuut terug na jou wortels, na Wie die Een is wat hierdie wortels letterlik haarfyn beplan het. Die Een wat ook die waterbronne rondom die wortels in Sy beheer het. Keer terug na jou Wortels, en keer ook terug na wie jy is, wie jy geplant is om te wees, ten spyte van waar lewensomstandighede jou soms plant. 

Die Here sê nie verniet in Jeremia 17 vir ons dat wanneer ons op Hom vertrou, ons soos bome is wat langs n rivier staan nie. Daardie bome se wortels groei en reik diep tot by die stroom van die water. Hulle hou ook nie op om vrugte te dra in droogte nie. 
Mag jy dit ook regkry, met Sy hulp, om nie slegs te blom daar waar jy geplant is nie, maar om te blom selfs daar waar dit moeilik is om te groei. 

Groete
Janine

info@themustardseedwithin.co.za
083 634 8020
https://themustardseedwithin.co.za/

#blom #blomwaarjygeplantis #wortels #themustardseed #grawe #selfondersoek #water