Bogenoemde ‘Dag’ is nou nie ‘n kortaf ‘Goeiedag’ nie.  Ek bedoel werklik Dag – dit wat op elke nag volg.    
Ek weet dat daar baie van julle is wat nou hier lees en voel dat dit heeltyd nag bly in jou lewe, dat jou omstandighede moeilik is of dat jy dalk geen uitkoms sien nie.  En ja, geen Dag kan jou uitdagings net soos mis voor die son wat elke dag opkom laat verdwyn nie, maar ek dink elkeen van ons moet tog net weer ‘n treë terugstaan en die volgende besef: 

Ek dink nie die Here het om dowe neute vir ons Dag gegee nie.  Daar is elke dag ‘n Dag, as julle verstaan wat ek bedoel, (bietjie baie ‘dag’ nou in hierdie sin). Na elke nag volg daar ‘n dag, dit is hoe wonderlik Hy alles geskep het.  Of jy nou wil of nie, of jy voel dat jou omstandighede te donker is of nie, jy gaan ook ‘n dag kry na elke nag.  Ons sê mos altyd vir mekaar dat na elke nag kom daar ‘n dag, ons sê nie sommer vir mekaar dat na elke dag kom daar ‘n nag nie, né? En dit is mos ook waar, na elke dag kom daar wel ‘n nag, maar ek dink nie dat dit is hoe God ons breine geskape het om dit so om te dink nie.  Julle almal ken die spreekwoord van ‘Carpe Diem’ – gryp die dag.  Ek dink nie daar bestaan ‘n spreekwoord van ‘gryp die nag’ nie? Kom ons sien vandag raak dat Hy die aarde so geskape het dat daar altyd ‘n dag op ‘n nag gaan volg.  Kom ons sien raak dat Hy ons as mense so geskape het dat ons ook moet besef dat ons elke Dag moet gryp en nie elke nag nie. Dat ons moet raaksien dat daar altyd weer makliker tye op moeilike tye volg.  Al lyk jou dag vandag donker, sien raak dat dit wel dag is.  Ek dink ons elkeen het ‘n verantwoordelikheid as Christen om dit raak te sien.   Carpe diem. Gryp die dag, embrace dit. En laat God toe om vir jou nag te sorg. 

Vandag is Dag 11 vir my in isolasie in die hospitaal.  En ja, daar was maar ‘n klomp nagte en so ook donkerder dae, maar daar is 11 dae wat een op die ander gevolg het, wat vordering en vooruitgang beteken, 11 dae wat my nader bring aan weer huis toe gaan.  Wat ‘n groot vooruitsig is dit nie dat daar ‘n dag op elke nag volg nie!   

Vader, gee elkeen van ons die krag om ons nagte met moed aan te pak.  Baie dankie vir die genade wat U ook vir elkeen van ons gee om ‘n dag op ‘n nag te laat volg. Skenk ons elke dag die wysheid om te besef dat dit slegs ONS keuse is om dit raak te sien, dat U dit nie VIR ons kan doen nie.   
Amen.    

Groete 
Janine

NS:  Ek sal ‘n opvolg post maak wat weer bietjie meer ‘opvoedkundig’ van aard sal wees vir die van julle wat meer wil weet van wat ‘n beenmurgoorplanting op hierdie stadium behels.

info@themustardseedwithin.co.za
083 634 8020
https://themustardseedwithin.co.za/

#dag #carpediem #grypdiedag #nag #genade #skepping #themustardseed