Ja-nee kyk, hierdie stelling som my nogal op die laaste tyd. Ek is die hele tyd in my agterkop bewus daarvan dat ek klomp goed het om uit te sorteer – in my koskas, my linnekas, my klerekas, my groot skoene-hoop, my eetkamertafel, my kop!! Vir wat stel ek tog so uit? Later kom die uitstel al hoe makliker. Hoe groter die chaos rondom my word, hoe groter raak die chaos in my kop. En nadat ek vandag slegs 10 minute daaraan spandeer het om n baie deurmekaar laai by die werk uit te sorteer, voel dit sommer of ek almal se laaie wil uitsorteer wat dit uitgesorteer wil hê. Daardie gevoel van genoegdoening wanneer jy beheer gevat het van selfs n klein ietsie, is so lekker! Die laai wat leër word terwyl die asblik voller word, so bevredigend. En dit is eintlik so maklik! 

Wat is clutter in JOU lewe? In my lewe is dit nie slegs n deurmekaar kas of n volgepropte laai met onnodige goed daarbinne nie. Clutter in my kop en in my hart – daardie is die destruktiewe clutter. Die minder mooi memories in ons koppe wat ons soms vir jare daar kan bêre en aan die lewe hou (sonder om die destruktiewe aard daarvan te besef). Die clutter in ons harte van emosies wat ons vreugde en ons vrede kan steel (sonder dat ons agterkom presies hoe negatief daardie clutter jou gemoedstoestand kan raak). En eintlik het ons net 10 minute op n dag nodig om te kyk watter clutter ons uit ons koppe kan haal. Net 10 minute wat ons op n dag nodig het om die regte keuses te maak – die keuse om daagliks ons koppe en ons harte skoon te maak van onnodige clutter. Clutter wat jou menswees kan verwoes! 

Om beheer te vat van die clutter in jou leefruimte en jou werksruimte, stel jou in staat om makliker beheer te vat van dit wat in jou kop en in jou hart aan die gang is. Chaos rondom jou lei so maklik tot chaos binne-in jou. Ek het al meermale beleef hoe kliënte in my kantoor glad nie verstaan waar ek vandaan kom as hulle daar is vir rousmartbegeleiding, en ek ewe ongeërg eers fokus op die chaos rondom hulle nie. Om beheer te vat van die chaos rondom jou, bemagtig jou net soveel meer om beheer te vat van die chaos binne-in jou wat die dood kan bring. Vreemd, maar daar lê baie waarde in hierdie teorie opgesluit. 

Doen jouself n guns en sit slegs 10 minute opsy om voorraadopname te maak van die clutter rondom jou, maar veral ook van die clutter hier binne-in jouself. Binne-in jou kop en binne-in jou hart. 
Mag jy saam met my die keuse maak om nie jou ‘postponed decisions’ in onnodige, swaargewig clutter te laat ontaard nie. 

Nou ja toe julle, my gangkas wag vir my …

Groete.