Vandag is my laaste inskrywing vir Borskanker bewustheidsmaand.

n Brief aan n borskankerpasiēnt op haar eerste dag van chemo en/of bestraling

Liewe borskankerpasiēnt

Ek is jammer dat dit nodig is dat jy vandag hier in die chemokamer of bestralingskamer moet sit. Ek weet jy het baie vrae, voel onseker en wens al die behandelings is al verby. Baie sterkte met elke fisiese uitdaging van hierdie kankerpad wat jy stap, maar n spesiale sterkte ook vir die emosionele uitdagings wat kanker bring. Dit is baie tough, ek besef dit.

Jy ken my nie, maar ek en jy het wel n gemene deler. Ek het ook al gesit waar jy nou sit, in die chemokamer en die bestralingskamer, met my eie fisiese en emosionele uitdagings. Hierdie is my ‘pay it forward’-projek, omdat ek soveel genade en liefde en omgee op my pad ontvang het.

Dit is hoe my Geloof, Hoop en Liefde borskankerprojek ontstaan het. Ek sal graag meer met jou wil deel oor hierdie projek wat in Oktober 2020 afgeskop het. Indien jy nodig het om n video te kyk van n doodgewone vrou, net soos jy, wat die uitdagings van kanker, n ernstige outo immuunsiekte en blindheid moes ‘face’ en dit steeds elke dag ‘face’, gebruik gerus die link hieronder.

Hierdie projek gaan nie oor MY nie, dit gaan oor JOU en elke ander vrou wat die geveg van borskanker moet veg.

Die volgende stukkie was n gewone whatsapp wat n vriendin vir my gestuur het op n dag wat ek baie swaar gekry het. Dit het so baie vir my beteken. En nou is ek op die punt waar daardie paar woorde waar geword het en waar ek die waarde daarvan besef. Jy gaan ook nog die voorreg hê om op hierdie punt te kom! Ek gee die stukkie dus ook vir jou vandag:

‘Eendag sal jy jou storie vertel van al die struikelblokke in jou pad wat jy oor en deur is en God sal die regte mense stuur wie nodig het om dit te hoor.’

Baie sterkte met jou eerste chemo en/of bestraling. Weet asb dat jy hierdie KAN doen! En jy GAAN dit ook doen! Ek weet jy is bang, maar onthou asb altyd: Jy het borskanker, maar borskanker het jou nie!! Jy sit in n chemokamer of n bestralingskamer met engele van susters rondom jou. Hulle het vanoggend opgestaan en ingekom werk toe vir JOU! Hulle wil graag daar wees vir JOU spesifiek!

Mag jy elke dag genoeg krag en genoeg genade ontvang vir jou uitdagings. En indien die paadjie te swaar raak vir jou, reik asb uit na n vriendin. En indien jy nie weet na wie toe om uit te reik nie, kan jy enige tyd na my toe uitreik. Ek, en baie ander vrouens wat ek ken, WIL graag daar wees om die pad saam met jou verder te stap. Jy is nie alleen nie, al voel jy so bitterlik alleen en klein daar waar jy nou sit.

Ek deel graag n klein stukkie van my Geloof, Hoop en Liefde Borskankerprojek met jou.

n Stywe druk vir jou!

Janine