Wat om NIE te sê vir iemand wat met borskanker gediagnoseer is nie:

1. Jou hare sal weer groei (ja dit sal, maar as jy nog nie al jou hare verloor het nie, sal jy nie weet hoe dit die vrou se selfbeeld raak nie)

2. Dit is NET boobs (ja dit is, maar dit is deel van die persoon se vrouwees en boobs groei nie weer nie)

3. My tannie/niggie het ook borskanker gehad en is eers na 5 jaar dood, maar ek is seker jy gaan hierdie ding wen (die persoon weet dat sy met die dood gekonfronteer word, maar wil nie sulke stories hoor nie)

4. Hulle sê dat chemo glad nie so erg is nie (ja gewoonlik vir ‘hulle’ wat nie chemo moet kry nie, is dit nie so erg nie)

5. So ek hoor jy kry n ’free boob job’ (die vrouens wat rekonstruksie as n opsie het, sou eerder verkies het om te betaal om nie daardie ’free boob job’ te moet kry nie)

6. Borskanker is nie meer so erg soos jare terug nie (ja borskanker is nie meer n doodsvonnis nie, maar vir die persoon met borskanker IS dit steeds erg)

7. Alles gebeur met n doel (dit is dalk waar, maar n kankerpasiënt kan nie altyd binne-in die uiters moeilike omstandighede deur n onbekende doel daarvoor getroos word nie)

8. Ons almal gaan eendag dood / ek kan more deur n bus raakgery word (ja duh, die kankerpasiënt weet dit, maar hierdie stelling komende uit n gesonde persoon se mond is baie onsensitief)

9. Ek beny jou, ek sou wat wou gee om van my groot borste ontslae te kon raak (nou hoekom dring jy nie aan op n dubbele mastektomie vir jouself nie?)

10. Jy moet net positief wees (alhoewel positiewe denke jou gelukkiger maak terwyl jy kanker het, kan positiwiteit nie die persoon se kanker genees nie)

11. Het jy al dit of dat probeer? My nefie se vriendin is genees daarvan deurdat sy daardie ‘iets’ gebruik het (terwyl die borskanker pasiënt bly is vir jou nefie se vriendin, is sy by n span dokters wat aan n spesifieke behandelingsplan vir haar spesifieke kanker werk)

12. Ek sal nooit chemo vat as ek borskanker kry nie (en jy sê dit vir my wat besig is met chemo? Kom ons hoop dan maar dat jy nooit voor daardie keuse geplaas word nie)

13. Toemaar, jy gaan gou weer jou ou self wees (nee, n borsksnker pasiënt is nooit weer haar ou self nie)

14. Het jy net borskanker? (Sjoe, wat wil jy hê moes ek nog gehad het?)

15. Maar jy lyk dan nie eers siek nie (ja jy lyk ook nie eers stupid nie … 😂)