Oktobermaand is borskankermaand – vir n borskankerpasiënt, is elke dag egter borskankerdag.

Vir die res van Oktober gaan ek n paar posts plaas vir bewusmaking van borskanker, saam met n skoot hoop en inspirasie. Deel dit gerus met jou vriendinne, nie slegs die wat n pad met borskanker stap nie. 

Wat is jou 2 grootste risiko’s om borskanker te kry?

1.  Jy is n vrou

2.  Jy word elke dag ouer

Ja, dit is so eenvoudig soos dit, dit is die harde realiteit. Elke vrou – ook jy – het dus die risiko om borskanker te kry. Die meeste borskankerpasiënte word na ouderdom van 50 jaar gediagnoseer, maar daar is baie vrouens wat dit op n veel jonger ouderdom kry. My liewe sussie is op 37 jr gediagnoseer en is ongelukkig op 43 jaar oorlede aan borskanker. Ekself is op 44 jaar gediagnoseer, met reeds limfkliere waarheen dit versprei het. 

Wanneer jy met borskanker gediagnoseer word, is die kanker reeds ongeveer 5 jaar al teenwoordig in jou bors waar dit groei, sonder dat jy bewus is daarvan en sonder dat jy n knop kan voel. Moet dus nie jou mammogramme en sonars mis nie – dit is die enigste iets wat jou borskanker vroeg kan optel. Indien jy digte borsweefsel het, dring aan op n sonar ook, nie slegs n mammogram nie. Met altwee my borste is die kanker slegs op die sonars raakgesien en nie op die mammogramme nie, as gevolg van digte borsweefsel. 

Moenie so arrogant wees om te dink dat goeie gesondheid en n fikse liggaam jou vrywaar van borskanker nie! Kanker neem nie gesondheid, ouderdom, status of ras in ag nie – jy is nie uitgesluit van die risiko vir borskanker nie!

Vandag, 4 jaar na diagnose kan ek sê: I AM LIVING WITH CANCER, NOT DYING FROM IT

Ek plaas vir julle n aangrypende storie en liedjie. Luister gerus daarna indien jy dit nog nie gehoor het nie. 

Groete.

Janine