Die meeste dinge in die lewe gebeur volgens n ‘beurte-model’, soos wat ek dit noem. Meeste van ons kry n beurt met n gegewe iets. n Beurt met n slegte iets, maar ook n beurt met n goeie iets. 

n Beurt om kind te wees,
en n beurt om grootmens te wees.
n Beurt om jonk te wees
en n beurt om oud te wees (slegs uit genade).
n Beurt om te lag, 
maar ook n beurt om te huil.
n Beurt om bekommerd te wees
en n beurt om tevrede te wees.
n Beurt om snags rond te rol,
maar ook n beurt om lekker te slaap.
n Beurt om te besig te wees,
maar so ook n beurt om te ontspan.
n Beurt om siek te wees, 
maar so ook weer n beurt op beter gesondheid. 
n Beurt om verantwoordelike keuses te maak
en n beurt om ‘keuses-wat-op-jou-backfire’ te maak.
n Beurt om bang te wees,
maar so ook n beurt om altyd te weet dat Hy reeds jou pad gestap het. 

Sien jy raak dat jy nie slegs die negatiewe van die ‘beurte-model’ ontvang nie? 
Sien jy raak dat jy nie slegs n beurt kry waar jy aan die verloorkant is nie, maar so ook altyd weer n beurt kry waar jy op n plek is waar daar altyd iemand is wat JOU beny? 

Wel, ek is nie vandag by die werk nie, ek is tuis, waar dit nou my beurt is om beurtkrag te hê. En waar dit nou-nou weer my beurt gaan wees om krag te hê. (Wat ‘by the way’ steeds nie vir almal beskore is nie). En die volgende is ek so effens versigtig om te sê, want ek vermoed daar is min mense wat met my gaan saamstem:  Soms, soos nou, is ek so bly dat ek n beurt kry vir beurtkrag. Dit is asof daar n stilte op my neerdaal, daardie salige gevoel van ‘jy kan nou in elkgeval nie veel doen nie’, en ek kans kry om al die files in my kop reg te liasseer en in orde te kry. Stilte. Hemels. Die meeste dae bring beurtkrag vir my ook groot frustrasie, maar n dag soos vandag, is ek maar net te dankbaar dat ek ook n beurt gekry het.

Indien jy op hierdie stadium van jou lewe voel dat dit nou nie meer lekker is aan jou kant van die ‘beurte-model’ nie, probeer onthou dat jy ook weer aan n beter kant gaan kom, jy gaan ook weer n beter beurt kry!

Groete.
Janine