‘Hulle wat alles in God se Hand los, sal uiteindelik God se Hand in alles sien’

Ek dink nie ekself het so n groot probleem om my bekommernisse vir die Here te gee nie, maar o weë, waar my grootste uitdaging lê, is dat ek my bekommernisse so gou weer gaan terughaal, net om seker te maak of ek dit nie dalk vinniger en beter kan bestuur nie. Ek hoop egter dit tel in my guns dat, sodra die bekommernisse weer oorweldigend word, ek dit weer teruggee vir Hom. Ek gee dit terug, want ek het dan gesien dat ek dit toe tog nou nie beter kon doen so op my eie nie. En so begin my ‘ooreenkoms’, wat ek met Hom gemaak het, maar Hy eintlik nooit met my nie:  ek bekommer my oor iets, ek gee dit vir Hom, ek vat dit terug, ek gee dit weer terug vir Hom. Heen en weer, heen en weer. 

Ek onthou toe ek my sig verloor het, 27 jaar terug, was ek bekommerd dat ek vir die res van my lewe in een hoek in een kamer in een huis vir altyd gaan sit. Totdat iemand my telkemale uit daardie hoek uitgetrek het, maar die lewe so oorweldigend was vir my elke keer, dat ek maar weer terug na my hoekie toe wou gaan. Ek het my bekommernisse oor hoe ek gaan werk, hoe ek gaan trou, hoe ek gaan kinders hê, hoe ek gaan lewe, hoe ek uit daardie hoekie gaan kom, onbewustelik so ge’nurture’ dat ek naderhand gedink het dat ék dit alles alleen in plek moet laat val. Ek het my bekommernisse geregverdig met ‘… maar EK is die een wat hier op aarde is, EK moet die besluite neem, Hy kan dit nie vir my doen nie.’ En ja, alhoewel daar baie waarheid steek daarin dat ons hier op aarde wél die besluite moet neem, gaan ons nie Sy Hand in alles sien as ons nie alles vir Hom gee nie. En dan gaan ons nie die regte besluite kan neem nie. Ek moes leer dat ek letterlik elke treë wat ek te bang was om in die donker te gee, vir Hom moes gee. Toe eers kon Hy die pad uit daardie donker hoekie in my kamer vir my begin wys. En nee, dit het nie maklik gebeur nie. Nee, ek het dit nie reggekry om net ewe skielik elke dingetjie vir Hom te gee sonder om dit weer terug te vat nie. Nee, ek het nie miraculously van my bekommernisse ontslae geraak nie, maar Sy Hand kon begin werk toe ek dit wat buite my vermoëns was, dit wat ek nie meer kon regkry nie, in Sy Hand gegee het. 

Vandag besef ek dat ek ook heel moontlik alles vir Hom gegee het net omdat ek nie self geweet het wat om daarmee te maak nie. Nie noodwendig omdat ek geglo het Hy weet wat om daarmee te maak nie. Maar vandag weet ek ook dat Hy okay was met die rede hoekom ek al my bekommernisse vir Hom gegee het. Hy het verstaan, want Hy is mos die Een wat elke selletjie van my aanmekaar geweef het. 

Vandag eers besef ek die waarde daarvan om dinge in Sy Hand te gee. Besef ek dat ek dit nooit ooit op my eie sou reggekry het om die lewe weer in die oë te kyk terwyl my oë letterlik nie meer gewerk het nie. Die enigste rede hoekom ek die lewe elke dag in die oë kan kyk, terwyl my oë steeds nie werk nie, is omdat dit in Sy Hande was, en steeds is. 

En ja, ek weet ook dat dit fine is dat ek hierdie eensydige ‘ooreenkoms’ met Hom het – van bekommernisse vir Hom gee en dit dan terugvat en dan maar weer teruggee. Ek is n mens, daarom is dit fine dat ek dit nie elke dag regkry om dit net eenvoudig in Sy Hande te los nie. 

Moenie te hard wees op jouself nie. As jy dalk soos ek dit ook nie regkry om elke dag met leë hande te sit omdat jy jou handevol bekommernisse heeltyd by Hom kan los nie, moet jy weet dat dit fine is. Hy het jou en ook vir my geskape, as mense, en Hy verstaan maar al te goed hoe feilbaar ons as mense is. God word nie afgesit deur ons menslike flaws en tantrums wanneer ons, ons bekommernisse telkemale terugvat nie. Hy kry dit steeds reg dat ons uiteindelik Sy Hand in alles sien, al gee ons daagliks dieselfde bekommernisse oor en oor vir Hom. Hy wil juis hê ons moet dit oor en oor doen. En ek wil hê dat jy moet weet dat jy Hom nie van stryk sal bring as jy jou bekommernisse gereeld weer n bietjie gaan haal nie. Dis fine, onthou net om dit elke keer, keer op keer weer terug te gee, sonder om te voel dat Hy nou al sowaar baie moeg moet wees vir jou. Ek kan werklik getuig dat Hy nog nooit moeg geraak het vir my nie (en onthou ek is die olympic champ van bekommernisse heen en weer gee), hoekom sal Hy dan vir jou moeg raak? 

Ek wil die stukkie wat ek heel bo aan die begin geskryf het, bietjie edit: 

Hulle wat elke keer weer, oor en oor, alles in God se Hand los, sal uiteindelik God se Hand in alles sien’

NS:  hierdie post is ‘to be continued’ op n latere stadium weer, wanneer ek graag meer met julle deel hoe ek met sekere dinge God se Hand in alles sien. Deur my geestesoë sien, soveel beter sien, want my liggaamlike oë werk steeds nie. 

Mag jy (en ek!) dit vandag regkry om weereens ons bekommernisse in Sy Hand te los. Net vir vandag. Dis genoeg vir Hom.

Groete.
Janine

info@themustardseedwithin.co.za
083 634 8020
https://themustardseedwithin.co.za/

#GodseHand #bekommernisse #themustardseed #syhandinallessien #netvirvandag