Voel jy soms of jy ewe skielik te midde van n rowwe storm op see is? Asof jy nie lank genoeg kan opkom om asem te skep nie? 

Nie een van ons is gevrywaar van onstuimige tye in ons lewens nie. Wanneer ons egter kop-onder-die-water spartel, is daar een belangrike vraag wat ons, onsself moet afvra: Het jy jou geloof op die wal gelos? Wanneer dit baie goed gaan in ons lewens, besef ons nie altyd hoe afhanklik ons van Hom is/moet wees nie. Wanneer dit goed gaan, maak ons soms onbewustelik op ons eie kragte staat, want ons dink ons kan sélf, ons kry dit dan mos self reg om gelukkig te wees. Dit is dan wanneer ons so maklik ons geloof op die wal los. En dit natuurlik eers besef wanneer ons midde in n storm is. 

Wat is egter ons gerusstelling? God reageer nooit soos n vriend wat hom vererg het vir jou en wegstap omdat jy hom op die wal gelos het nie. God sal áltyd op die wal vir jou wag, gereed en gewillig, Sy Hand reeds uitgesteek na jou. God het altyd die mag, of jy Hom nou op die wal gelos het óf saam met jou geneem het, om die storm stil te maak. Wanneer Hy egter steeds die storm in jou lewe toelaat, is Hy saam met jou daarin. Lig Hy jou op om gereeld asem te skep. Jy is nie alleen nie en hoef nie bang te wees nie. 

Indien jy vandag besef dat jy dalk jou geloof, of selfs net n stukkie daarvan, op die wal gelos het, swem terug en gaan haal dit. ‘n Storm is soveel minder vreesaanjaend wanneer jy die regte Persoon saam met jou het. 

info@themustardseedwithin.co.za
083 634 8020
https://themustardseedwithin.co.za/

#g