Daar is dae wat ek voel soos ‘n vierkantige knoppie wat in ‘n ronde gaatjie ingesqueeze word. Ek wil net nie pas nie! Om blind te wees in ‘n siende wêreld is soms soos ‘n groot vierkantige knop wat deur ‘n klein koeëlronde gaatjie moet gaan. Soms moet jy jou vierkantige knoppie se kante deurskaaf om net half-half in daardie gaatjie te kan inpas. Maar hoekom, is dit werklik nodig?? Vra ek myself gereeld af.

Probeer jy soms inpas waar jy weet dit nie gaan werk nie?
Probeer jy vriende wees met die mense wat nie jou waarde besef nie? Probeer jy iemand se goedkeuring wen wat nie jou uitdagings met sagte hande kan hanteer nie? Probeer jy klere dra waarin jou lyf nie eintlik wil pas nie? Probeer jy hoër lewe as wat jou salaris uitbetaal? Probeer jy hierdie perfekte ma wees wat in ander se oë nooit faal nie?

Wel, vandag besluit ek net weer: Ek is ‘n vierkantige knoppie. Ek gaan nie meer toelaat dat iemand my in hulle ronde gaatjie probeer indruk nie. Ek is tevrede daarmee dat ek vierkantig is. Indien jy nie met my tevrede is nie, wel, dan is dit jou en jou ronde gaatjie se probleem sou ek se?

Ek hoop dat jy ook tevrede kan wees daarmee dat jy soms soos ‘n vierkantige knop in ‘n ronde gat voel. As jou kinders dalk nie perfek is soos wat jou vriendin voorgee haar kinders is nie. As jou kinders sowaar waag om stout te wees in die winkel terwyl jou vriendin se kinders blykbaar altyd stroopsoet in die trollie sit. As jou vriendin se kind blykbaar kwyl so baie hou hy van groen groentes, terwyl jou kind hoender en vis as groente beskou. As jou kind uitval met die atletiek se kleuresport terwyl jou vriendin se kind klaarblyklik met die goue lepel in sy spiere gebore is. As jou huis se linnekas deurmekaar is terwyl jou vriendin se pak van lakens soort-by-soort-netjies-opgevou-met-n-liniaal-afgemeet word. As jou spieël nie elke dag vir jou sê dat jy pragtig lyk nie, terwyl jou vriendin oorloop van selfvertroue in haar nr. 46 miniskirt.

Nee, my huis se gras hoef nie so groen te wees soos joune nie, want ek het nie die krag om kunsmis te strooi nie. Nee, my kinders hoef nie so soet te wees soos joune nie, want ek het hulle lief ongeag. Nee, my kaste mag maar deurmekaar wees, want ek kies om my tyd anders te spandeer. Nee, my spieël sê vir my absoluut niks nie, want ek kan nie sien wat daarin aangaan nie; ek wil ook nie, want ek is okay met hoe dinge is. As jy nie okay is daarmee nie, ‘then so be it’, kyk dan anderpad.

Nee, ek wil nie kan doen wat jy kan doen nie, want dit lyk nie vir my aldag of dit jou tevrede laat voel nie. Nee, ek is nie ‘n perfekte ma nie, ek raak baie tye geirriteerd met my kinders al verdien hulle dit nie.
Ja, ek weet hierdie rok lyk beter aan die winkelpop as aan my, maar ek hou van die rok, daarom dra ek dit. Ja, ek hou daarvan om laataand in die bed te le en ‘n hele pak chips op te eet, dit is my bed, ek mag. En ja, ek gaan nie meer maak asof ek van jou hou nie, ek weet nie hoekom was ek altyd so simpel gewees nie. Gaan soek vir jou ‘n ander vierkantige knoppie om by jou ronde gat in te squeeze.

My knoppie is vierkantig, ek hou van dit so. Ek sal aan myself skaaf wanneer ek voel dit is nodig, dit is nie nodig vir jou om dit vir my te se nie (die audacity?) Jy is nie altyd reg nie – maar jy sal dit nie weet nie, want jy dink dat jy altyd reg is.
Ek kan nie sien nie, maar te oordeel aan jou opmerkins is daar baie dae wat jou beeld ook nie so duidelik is nie …

Ek wil my kinders grootmaak op die manier waarmee ek gemaklik is, hulle gaan ook hemel toe, daarvan is ek seker.
Ek wil soms kla, want ek mag.
En soms wil ek nie kla nie, ook omdat ek mag.
Ek is wie ek is, ek hoef nie soos jy te wees nie.

Dalk is ‘n paar van julle ook vierkantige knoppies wat soms ook dinge soos ek beleef? Wel, vandag wil ek vir jou sê, moenie jou elke dag so stukkend skaaf om in ‘n ronde gat te kan inpas nie. Jy hoef nie. Jy en jou vierkantige knoppie is presies net soos wat Hy jou geskape het. Vierkantig, nie rond nie. Moenie dat enige iemand jou iets anders probeer wysmaak nie! Daar is baie vierkantige gaatjies waar jy sal inpas, spesiaal net vir jou.

Wees wie jy is!!

NS: Hierdie is sommer net ietsie wat ek geskryf het, dit is nie op iemand spesifiek gemik nie. Alhoewel ek aan ‘n naam of twee kan dink …

Dalk voel jy vandag so, en dan is hierdie spesiaal vir jou geskryf!

Mooi dag verder vir elkeen van julle.
Janine