Ons hou nie altyd van ons omstandighede nie, né? Ons hou nie altyd van hoe dit in ons lewens gaan nie. Ons het egter nie beheer oor dit alles nie, dit weet ons mos almal. Soms haat ek my omstandighede met ‘n passie wat die grootste hater in die wereld sleg sal laat lyk, maar dan kom ek ook agter hoe destruktief so ‘n intense negatiewe emosie is. Kort voor lank bevind ek myself dan dat ek skuins beneuk is, omge-ellie tot die mag 10 en vind-fout-waar-daar-geen-fout-te-vind-is in my huisgesin nie. Klink dit dalk bekend? Arme beter helfte loop dan deur. En indien hy nie vinnig genoeg in sy spoor (my spore verkieslik!) trap nie, het ek darem nog die kinders om op te pik. En net deur in hulle kamers in te stap, kry ek sommer gou-gou (blindelings 😂) rede om my om-ge-ellie-geit gevaarlike spoed te laat vang. Sjoe, dit klink nou omtrent soos ‘n heksejag wat in my huis plaasvind, dalk sal julle maar die welsyn se nr op standby moet hou … (Ha-ha, ek IS mos die welsyn, julle gaan ‘n ander way moet vind 🤪)

Om weer terug te kom na die punt toe. Soms haat ek my omstandighede. My lyf. Al die pypies en masjientjies en sakkies en ‘what-have-you’s’. Al die seer spiere. Al die senuweepyn. Al die min slaap. Al die pleisters. Al die inspuitings. Al die bloedtrek. Al die dialises. Al die handevol pille en eindelose drips en behandelings. Al die hospitale. Soms haat ek my gesondheid. Punt. Of korreksie: My gebrek aan gesondheid.
Jitte julle, dit klink nou darem erg negatief. Maar komaan, wees nou eerlik, wie van julle wil plekke ruil? Het so gedink!! Toemaar, glo my, ek wil ook nie met julle plekke ruil nie! Hoekom nie? Ek het nou wel ‘n love-hate-relationship met hierdie balhorige lyf wat van opstaantyd tot slaaptyd so min as moontlik samewerking gee, maar as ek kan kies, dan trek en stoot ek maar eerder my eie lyf as wat ek julle s’n moet trek en stoot.

Ek is blind. Dis okay (Ag kan iemand my tog net sê hoe spel ‘n mens okay? Want dis nie okay vir my as ek heeltyd okay verkeerd spel nie …)
Ek het ‘n skaduwee van n siekte waarvoor ek gereeld in ‘n vistenk moet gaan uitkamp. Dis okay. (daarvan vertel ek julle anderdag).
Ek kry dit al amper reg om vir myself narkose in teater te gee so baie kere moes ons die dril al doen. Dis okay. (Moet asb geen. narkotiseur nou tag nie)
Ek word elke dag ouer. En vetter. En dis okay (of okay, die laaste deel is eintlik nie heeltemal okay met ons almal nie …).
Ek stap ‘n pad met kanker. Dis okay.

Maar weet julle wat is NIE okay nie? As ons ‘n lewe van bitterheid lewe, elke dag, en ander laat skuldig voel omrede hulle dit volgens ons makliker het. Hulle het nie! Hulle het hulle eie uitdagings!

Ek sê altyd, in enige uitdaging of krisis of trauma is daar net twee keuses: You either get BETTER or you get BITTER. Dis waar, né?

Aanvaar jou uitdagings, jy gaan dit nie slegs vir die mense rondom jou makliker maak nie, maar jy gaan dit veral vir jouself soveel makliker maak.
Ja, dit IS moontlik om ‘n lewe van oorvloed en sinvolheid te lewe ten spyte van jou uitdagings.
Ja, dit IS moontlik om jou uitdagings deel te maak van jou lewe.
Ja, dit IS moontlik om jou uitdagings te aanvaar soos wat jy jou pantie-size moet aanvaar (okay dit was nou nie my beste voorbeeld ever nie).
Ja, dit IS moontlik om jou uitdagings met grasie saam te dra elke dag. Let wel: nie saam te sleep nie!

Jy hoef nie van jou uitdagings te hou nie; ek hou ook nie van myne nie, maar vrek julle, mens het nie nog die krag om dit saam te SLEEP nie. Dra dit eerder. Fier en regop. Dra dit volgens daai regte ‘postuur-ding’: boude in, maag in en boobs uit. Of so iets. (Regte boobs EN fake boobs! 😂)

Ons moet sowaar nie toelaat dat dit ons weghou van gelukkig wees nie. As jy nie bereid is om vrede te maak met jou omstandighede en met dit wat jy nie beheer oor het om te verander nie, word jy wragties ‘n ongesellige mens, om nou die minste te sê. ‘n Mens van wie ander nie hou nie. En die ergste? ‘n Mens van wie JY nie hou nie!

Ons hoef nie van ons omstandighede te hou nie. Maar deur dit te aanvaar en dit deel te maak van elke-dag-se-lewe, maak jy jou paadjie sommer baie meer gelyk. En gun jy jouself om jou energie te bêre vir daardie dae wat jy skuins beneuk en omgesukkeld en omge-ellie en moedeloos voel met die onregverdigheid wat die lewe nou al weer met ‘n skuins snotklap vir jou uitdeel. Spaar jy so jou energie vir daardie dae wat jou man of kinders dit regtig verdien dat jy jou moet uitwoed … 🤪

WE DON’T HAVE TO LIKE OUR SITUATIONS, BUT WE DO HAVE TO ACCEPT THEM!

Mooi bly julle.
Janine