Ek wil sommer iets plaas wat binne-in my hart le.
Ek dink elkeen van ons moet in hierdie tyd ekstra probeer dink aan dié onder julle wat in hierdie jaar iemand aan die dood afgestaan het. Ek is ongeraak daardeur hierdie jaar en het natuurlik n groot dankbaarheid daarvoor, maar so baie mense is juis in hierdie jaar geraak en moes leer om van die dood en van elke-oomblik-se-verlange (of dit nou dof of intens is), n vriend te maak.
Want die dood is net n TE seer ding om te ver van jou af weg te stoot, soos wat mens eintlik met n vyand sou wou maak, want dan kan die skade wat dit maak onverwags ‘devastating’ wees. En daarmee sê ek natuurlik nie dat die lewe moet gaan stilstaan nie, nee, ek sê net dat n vyand daar doer ver agter n digte bos jou baie meer skade kan berokken as n vriend met n graaf wat direk langs jou stap.
Ek het nou die dag op n stukkie afgekom wat dit so raak beskryf het: hoe jy oor en oor iemand verloor, soms n hele paar keer op n dag. Elke keer weer die skrik, die verslaentheid, al die emosies. Oor en oor. Die van julle wat geraak is sal weet waarvan ek praat.
In hierdie tyd van heimweë en verlange, dink ek dat daar baie van julle is wat die seer baie diep ervaar. Baie sterkte as hierdie dalk jou eerste Kerstyd sonder n kind, n huweliksmaat, n broer of suster, n ouer, n familielid of n dierbare vriend(in) is. Mag jy genoeg ondersteuning van jou geliefdes ontvang, mag Hy jou genoeg krag en genade gee vir elke oomblik en elke dag wat spesifiek vir JOU baie moeilik is.
Ek gaan probeer om die stukkie wat ek gelees het, hier te post, dalk vind jy n oomblik se ‘ek verstaan dit’ daaruit. (Ek het egter nie nou oë om my nie, die kans is dus goed dat ek dalk nie gaan succeed om dit te plaas nie)
‘Hats off’ aan elkeen van julle wat n ekstra groot stuk hartseer in hierdie Kerstyd ervaar! Ons ander salueer die manier waarop julle jul pyn nou dra.
Janine