Nee, moet nou nie sê: ‘Niks nie’.
Elkeen van ons is bekwaam om sekere dinge te kan doen. Dinge goed te doen wat andere heel moontlik nie soos jy kan doen nie. Gewoonlik hou jy ook van dit waarin jy bekwaam is, dit wat jy goed kan doen.

Kry jy egter tyd om dit te doen waarin jy goed/bekwaam is? Soms slurp die verloop van die lewe jou op, sodat daar nie tyd is om dit te doen waarin jy bekwaam is nie. Wanneer jy in n werk staan wat jy geniet, ja dan kry jy gewoonlik genoeg tyd om dit te doen waarin jy dalk goed is. Ek is in daardie bevoorregte posisie om die werk te doen wat my hart vul, wat my die geleentheid bied om dit te doen waarin ek dink ek beter is as wat ek in ander beroepe sou wees. Sou jy my in n kantoor sit met net rekenaars en geen mense rondom my nie, sal ek definitief vir jou sê dat ek nie bekwaam is in my werk nie. Om met mense te werk, ja, dit laat my ‘tick’!

Vir die van julle wat nie in n werk is waar jy dit geniet nie, waar jy voel dat jy geen bekwaamheid het of geen groei ervaar of glad nie mee goed is nie, vir julle wil ek ‘sterkte’ sê. En ek wil vir jou wens dat jy wel steeds bekwaam in daardie werk van jou sal wees. En dat jy trots sal kan hê in jou bekwaamheid in jou werk. En onthou, dit sluit jou in wat dalk nie soggens opstaan om na n ander werk buite jou huis toe te gaan nie, maar wie se werk is om die dinge by daardie einste huis ge-olie te hou. Daardie is n baie uitdagende werk waarvoor n mens juis bekwaamheid nodig het.

Jy mag nooit ooit dink dat jy NIE bekwaam is vir iets of in iets of met iets nie. Jy IS! Soms moet mens net bietjie dieper gaan grawe om daardie bekwaamheid weer raak te grawe en mooi af te stof. Soms moet jy tyd gaan maak om jou bekwaamheid weer raak te sien, of jy moet tyd gaan maak om jou juis te bekwaam in dit waarvan jy hou, al is dit net n stokperdjie.

Ek wil julle graag net weer wys op die volgende aanhaling:

‘GOD ROEP NIE DIE BEKWAMES NIE, MAAR HY BEKWAAM DIE WIE HY ROEP’

Dit is sulke kragtige woorde, né?

Ek dink die grootste slaggat waarin ons kan trap, is om nie raak te sien hoe maklik God ons bekwaam kan maak nie.
MAAR ons moet ons egter beskikbaar stel. Veral in ons geloof. Gaan lees gerus weer Eksodus 4:10–12 waar God met Moses gepraat het.
“Toe sê Moses aan die Here: Ag Here, ek is nie n man van woorde nie – van gister of van eergister of vandat U met U kneg gespreek het nie; want ek is swaar van mond en swaar van tong. En die Here antwoord Hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of Wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die Here, nie? Gaan dan nou heen, en Ek sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet
sê.“

Mag elkeen van ons onthou dat die Een Wie ons geskape het, dieselfde Een is wat ons ook bekwaam vir dit wat Hy wil hê ons moet doen.
Wat n gerusstelling is dit nie, né?

Groete. Janine