Vandag se stukkie wat ek plaas, is dalk ‘n bietjie rou en daar is selfs ‘n paar woorde met ‘n * in, taal wat julle nie gewoonlik op my blad raaklees nie. Indien dit jou dus gaan skok, moet jy eerder ‘verby scroll’ soos wat hulle sê.

Ek het ‘n sussie. Net een sussie. ‘n Bloedsussie. ‘n Ouer sussie. My sussie. In die hemel. Sy was my heel eerste vriendin gewees. Vir baie lank my enigste vriendin gewees. Ek onthou hoe ons as kinders ‘n kamer gedeel het. ‘n Pienk kamer. Altyd ‘n pienk kamer. Met twee enkelbeddens. Twee beddens wat ons Ma altyd dieselfde laat lyk het. Daar was nie ‘n ding van jy kies wat jy op jou bed wil hê nie, want as dit nie dieselfde lyk nie, het dit volgens ons Ma blykbaar nie ‘reg’ gelyk nie. Die aande voordat die skool weer begin het na ‘n skoolvakansie, kon ek van opgewondenheid nie aan die slaap raak nie. En dan het my sussie vir my gese om by haar te kom lê. Sodat ek makliker aan die slaap kon raak. En dan het ons die volgende oggend wakker geword in mekaar se beddens. In st. 6 (deesdae se gr. agt) het ek vir die eerste keer my eie kamer gekry toe my sussie universiteit toe is. En het ek nie uitgesien daarna nie! Maar dit was toe nou nie so lekker soos wat ek gedink het dit gaan wees nie. Ek het haar gemis! Haar bed gemis! Die laataand gegiggel gemis. Selfs die gestry oor die onregverdige hoeveelheid plek van die kamer wat die ander een gebruik, gemis. Vandag mis ek jou ook baie Mariette. Vandag is dit al 11 jaar wat jy weg is – en ek wens jy was net weer weg universiteit toe, en nie weg hemel toe nie.

Vandag onthou ek dit weer soos gister. Die oproep van haar matriekseun, ons moet almal hospitaal toe gaan. Hulle het hom gebel, ek moet asb uitvind wat aangaan. Hoe gebeur dit dat sy nommer op ‘n hospitaalpapier is om ‘pa’ te staan in so ‘n situasie? wonder ek nog. My oproep hospitaal toe. Ons moet kom. Almal. Maar sy sou dan die volgende dag ontslaan geword het? Hoe is dit moontlik dat sy nou kritiek is?? Kritiek van ‘n bloedklont. NET ‘n bloedklont? dink ek nog. Nadat sy borskanker vir 6 jaar geveg het, sê jy wat die saalsuster is vir my dat ‘n bloedklont die rede is dat hulle al vir 10 minute besig is om haar te resus (resussiteer)? Dat sy nie asemhaal nie. Dit maak nie sin nie. Maar ek maak die oproep na my ouers toe dat dit slegter gaan met haar (ek kon tog nie die waarheid sê nie, hulle het ‘n aaklige en lang pad om te ry tot by die hospitaal). En ons jaag. Jaag van ons kant af om voor my ouers en my sussie se twee kinders wat van ‘n ander kant af jaag, by die hospitaal te wees. En ek besef: My sussie is besig om dood te gaan en ek gaan nie betyds wees nie. Oppad wurg ek dit telefonies uit die hospitaalsuster uit om vir my te sê presies wat aangaan. Wurg ek dit uit haar hospitaal-protokol uit dat my sussie dit nie gemaak het nie. DIT NIE GEMAAK HET NIE – hoekom is daar sulke woorde? Sy het dit nog altyd ‘gemaak’. Sy het dit dan altyd ’gemaak’ om daar te wees vir my, sy het skool gemaak, sy het SA’s atletiek gemaak, sy het twee pragtige kinders grootgemaak, sy het chemo gemaak, operasies gemaak, bestraling gemaak, 6 jaar van kanker gemaak. Nou wil jy vir my sê sy het dit nie gemaak nie?? En ek dink ‘bullsht’, maar besef uiters paniekerig dat ons self nog meer as ‘n uur het om na die hospitaal te ry en ek moet daar uitkom voordat hierdie suster sulke kk vir my ouers en my sussie se kinders vertel.

My ouers en my sussie se kinders was toe sowaar voor ons by die hospitaal. Het buite die hospitaal vir ons gewag. Dankie Here vir daardie stuk genade wat ons op die pad gereël kon kry. Dat hulle nie soos die vorige paar dae direk na haar hospitaalkamer toe gestap het nie. In die eerste 10 sekondes wat ons langs mekaar buite die hospitaal staan, verander hulle lewens egter ook, want ek moet hulle meedeel dat Mariette dit ‘nie gemaak het nie’. En in die 10 sekondes wat op daardie nuus volg, het ek die grootste trauma beleef wat ek nog ooit beleef het. Ek was reeds blind, maar ek kon ‘sien’ wat die woorde “Mamma is dood” uit my mond aan ‘n 16-jarige, ‘n 17-jarige, ‘n Ma en ‘n Pa doen. En na daardie 10 sekondes was niemand ooit weer dieselfde gewees nie.

Ons het saam die hospitaal ingestap. 8 mense saam, maar elkeen alleen in sy eie ongeloof en seer vasgevang. Niks het sin gemaak nie Mariette, al het ons hoeveel keer daar in die hospitaalkamer gehoor, gesien, dat jy ’dit nie gemaak het nie’. Die hospitaal was koud. Die kamer was koud. Die perfekte herfsdag buite het in die koudste wintersdag verander. Die warm koffie van die hospitaal het koud in ons nog kouer harte gaan sit, dit het nie getroos nie. Die broodjie het in ons kele vasgesteek, dit het nie ‘n hol gaatjie gevul nie. ‘Jy het dit nie gemaak nie’ – hoe doen ons die lewe dan nou verder met jou wat dit nie gemaak het nie??

Mariette, vandag wil ek vir jou sê: Jy het dit gemaak!! Hoor julle almal: Mariette het dit gemaak!! Niemand kan sê dat jy dit nie gemaak het nie. Jy het die lewe gemaak, jy het die poorte van die hemel gemaak! En elkeen wat DIT maak, het dit gemaak!! En jy het jou ma-wees gemaak – jy leef voort in jou twee pragtige kinders. Hulle is nou al 28 en 26 jaar oud, een al getroud. Ja, kan jy dit glo Mariette? Jy het die wonderlikste ‘legacy’ nagelaat – jou lewe was nie verniet nie, jy lewe voort in jou kinders en sal altyd voortleef in dit wat hulle doen en in dit wat hulle nie doen nie. Ons sien jou in hulle, ons hoor jou in hulle. Ons is so trots op hulle.
Jy sal bly wees om te hoor dat elkeen van ons ander dit ook gemaak het. Ons mis jou Mariette, maar na 11 jaar doen ons steeds die lewe. Ons het nie gedink ons gaan dit maak nie. Ma het jou ongelukkig 2 jaar daarna gejoin, maar ek, Pa, jou boetie en jou twee kinders en almal wat vir jou lief was het dit gemaak. Maklik? Nee, die woord maklik sal nooit deel vorm van die sin nie. En die woord moeilik is ‘n understatement. Maar ons elkeen het dit reggekry om so op ons eie manier Habakuk 3 wat ons op jou steentjie gesit het, te lewe. Jy sou trots gewees het op ons. Ons kry dit reg om te lag, al is jy nie hier nie. Soms lag ons wanneer ‘n mooi herinnering ons aan jou laat dink, soms huil ons. Soms huil ons na binne en ander dae soos vandag huil ons weer baie snot saam met die trane. Warm koffie maak weer warm, ‘n toebroodjie vul weer ‘n hol gaatjie. Die lewe het weer ander betekenis gekry. Steeds mooi betekenis. Ons kry dit reg om lekker dinge te doen, al is jy dood. Ons lewe, al is jy dood. Maar ons hou jou in ons harte, elke dag. En daarom lewe jy ook voort, hier op aarde, maar vir altyd ook in die Ewige Lewe. JY HET DIT GEMAAK!!

Vir die van julle wat ‘n sussie het, nog hier op aarde (al is dit ook nie ‘n sussie nie), share hierdie stukkie met haar, sodat sy weet dat jy haar waardeer. Sodat sy weet dat haar lewe sin het, dat sy dit maak, dat sy dit altyd gaan maak, selfs al verruil sy die tydelike lewe op aarde vir die ewige lewe in die hemel. Deel hierdie stukkie met enige iemand, deel jou omgee, deel jou liefde.

‘Habakuk 3: Nogtans sal ek jubel, sal ek juig in God my Redder’
En dit Mariette, dit sal ons aanhou doen!

Janine