Na baie mense wat oor baie jare voor my in my kantoor gesit het as gevolg van ‘n traumatiese gebeurtenis, dink ek het ek uiteindelik tot die volgende slotsom gekom rakende trauma:

Jy kom nie sommer net oor trauma nie. Jy beweeg nie sommer net aan na trauma nie.
Nee, trauma dwing jou om spasie in jou lewe te maak daarvoor. Jy dra dit saam met jou, jy leer om te lewe mét dit in jou lewe.
Jy beweeg aan met dit steeds in jou lewe. En met harde werk en gereelde stukke genade uit Sy Hand, kry jy dit reg om te floreer ten spyte van trauma. Met nog meer genade kry jy dit reg om persoonlik te groei, om meer voluit te leef juis as gevolg van jou trauma.
Dit klink na net n paar sinne, maar eintlik is dit ‘huge’, né?

Party mense het die vermoë om trauma soos ‘n groot klip neer te sit en ligter aan te beweeg sonder om weer om te kyk – en dit is reg! Ander mense het nodig om hierdie klip met hulle saam te dra en net gereeld te stop om te rus – en dit is reg! Ander mense skop hierdie klip stukkie vir stukkie vorentoe – en dit is reg! Sommige mense ‘embrace’ (ek kan nou nie die regte afrikaanse woord vind nie) hulle trauma en juis dit maak hulle sterker – en dit is reg! Daar is nie ‘n resep vir hoe jy trauma moet hanteer nie – mag ons respek hê vir mekaar se verskillende hantering van trauma.
Wat ek wel geleer het van ander mense (en ook van my eie belewenis van trauma) is dat solank ons God deel maak van ons trauma, sal ons wel vorentoe kan beweeg. Mag ons almal rondom ons wat trauma in hulle lewens gehad het, of nou het, met ‘n sagte hand hanteer, net soos wat God ons met Sy sagte Hande hanteer.

Indien jy dalk vandag worstel met ‘n stuk trauma in jou lewe, ek weet nie hoe swaar JOU klip is nie – sterkte vir jou! Mag jy vandag genoeg krag en so ook genoeg genade ontvang om spasie te maak vir hierdie trauma en mag jy liggies dra hieraan. En indien jy swaar dra, bid ek vir jou mense toe wat jou help dra. Moenie alleen aan jou trauma dra nie, dis eenvoudig net te moeilik.
“Let go and let God” – Hy weet wat die beste manier vir JOU is om saam met hierdie trauma vorentoe te beweeg.

Ek wens vir jou vandag n ‘ligte’ en n ‘sagte’ dag toe.

Janine